Span kundiges help om gorilla se abses te opereer, tand te trek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

As hy vir ander kon raad gee, "sou dit beslis wees om hul tande te borsel"!

Binga, 'n 23-jarige gorillamannetjie in die Nasionale Dieretuin in Pretoria, wou nie vir die abses aan sy onderkaak medisyne drink nie en moes toe 'n operasie ondergaan.

Die dieretuin se veeartsenykundige span het aanvanklik probeer om die abses, wat waarskynlik deur periodontale siekte of tandvleissiekte veroorsaak is, met antibiotika te behandel, maar Binga, wat 180 kg weeg, het geweier om die medisyne te drink.

Periodontale siekte, wat algemeen by mense voorkom, tas die weefsel, soos tandvleis, aan wat jou tande ondersteun en aan die mond help heg. Dit word onder meer deur bakteriële plaak veroorsaak.

Dr. Agustina Fitte, wildlewespesialis by die Nasionale Dieretuin, verduidelik periodontale siekte is 'n infeksie van die tandvleis en ondersteunende weefsel.

"As dit nie reg behandel word nie, kan dit infeksie veroorsaak en 'n abses vorm."

Dié siekte het die tandvleis rondom een van Binga se kiestande geraak. Die abses moes geopereer en die betrokke tand getrek word.

"Diere in die dieretuin, soos Binga, ondergaan jaarliks gesondheidsondersoeke om te verseker dat hul toestand optimaal bly," sê Fitte.

Fitte verduidelik dié ondersoeke is nodig omdat wilde diere normaalweg geen tekens van swakheid sal toon nie omdat dit deur hul eweknieë en roofdiere uitgebuit sal word.

"Hierdie ondersoeke is daarom noodsaaklik vir vroeë diagnose en behandeling."

'n Groot span help om Binga, 'n 23-jarige gorillamannetjie wat 180 kg weeg, uit die bakkie te haal. Foto: Verskaf
'n Groot span help om Binga, 'n 23-jarige gorillamannetjie wat 180 kg weeg, uit die bakkie te haal. Foto: Verskaf

Jaarlikse ondersoeke vir diere in die dieretuin is omvattend en sluit tandheelkundige evaluasies, bloedtoetse, ultraklanke van die hart en buik, oogtoetse, X-strale van die borskas en selfs ginekologiese ondersoeke vir wyfies in. Tandheelkundige probleme, soos Binga se abses, kan egter onverwags voorkom en verg onmiddellike aandag.

Die abses is in 'n roetine-ondersoek op 25 November waargeneem.

"Hierdie soort prosedure is heeltemal te kompleks vir 'n enkele veearts om te hanteer," sê Fitte.

By die operasie vandeesweek is gevolglik 'n span spesialisveeartse van sowel die Nasionale Dieretuin as die Universiteit van Pretoria se veeartsenykunde-fakulteit betrek. Benewens Fitte sluit dit prof. Gerhard Steenkamp, 'n veaartsenykundige tandheelkunde en maksillogesig-spesialis, prof. Katja Koeppel, 'n spesialis-wildveearts, dr. Nicolene Hoepner, diagnostiese spesialis, Radion Khoza, gorilla-bewaringsbeampte, en dr. Giovana Martins, residentveearts, in.

Koeppel se uitgebreide ervaring in die immobilisering van gorillas, nadat sy met meer as 400 in haar loopbaan gewerk het, was van kritieke belang. Haar kundigheid het verseker dat Binga deurlopend gedurende die prosedure in die veiligste moontlike hande was.

Fitte het ook die uitdagings uitgelig om met hoogs intelligente en potensieel gevaarlike diere te werk.

"Gorillas het 'n ongelooflike geheue en vermoë om bedreigings te identifiseer, insluitend mense met pylgewere. Gegewe my deurlopende opleidingsessies met Binga, wou ek nie hê hy moet my met die pylproses assosieer en my as 'n roofdier beskou nie."

Om 'n gorilla onder narkose te hou, kan ook gevaarlik wees omdat die dier vir langer as twee ure onder verdowing sal wees.

Koeppel sê Binga is nou sonder pyn en gesond.

"As hy 'n boodskap kon deel, sou dit waarskynlik wees: ‘Moenie vergeet om jou tande te borsel nie!' "

- seugnet.vanzyl@media24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA