“Ons is nog hier . . . hoekom? Net Jesus weet.”
So het Danie Botha Dinsdagoggend aan Netwerk24 gesê.
Botha het verlede week voorspel dat die wegraping tussen 23 en 24 September sou plaasvind.
Botha het verlede Donderdagmiddag in ’n regstreekse uitsending op Facebook gesê hy is “hartseer en teleurgesteld” dat die wegraping nie plaasgevind het nie.
Hy het ook om verskoning gevra vir die mense wat hy moontlik skade aangedoen het – “emosioneel, op enige manier, as ek enigiemand afgetrek het van die geloof af”.
Botha het volstaan by die tekens wat hy ontvang het, maar sê dit was ’n fout om ’n datum te verkondig.
“Daar is nou nie meer iets te sê nie. Die boodskap is gelewer,” het hy Dinsdagoggend gesê.
“Daar sal nie weer ’n waarskuwingskoot so laag oor ons koppe wees uit die hemel nie. Volgende keer sal die regte een gebeur.”

Botha sê in sy video Donderdag hy het groot finansiële skade gely en is nou in ’n “penarie”.
Hy sê ook hy is dankbaar vir “die baie, baie mense wat hul lewe reggemaak het en dieper introspeksie gedoen het om te kyk hoe hulle nader aan die Here kan kom”.
Botha sê aan Netwerk24 hy bring nou baie tyd in sy bidkamer “in die vrede van die Here” deur.




















