Dapper seun (16) red 3 ander seuns van verdrinking

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Dapper tienerseun van KwaZulu-Natal sê hy het nie twee keer gedink om in die see te duik om drie ander tienerseuns se lewe te red nie.

So het Keagan Lowe (16) van die suidkus van KwaZulu-Natal Vrydag aan Netwerk24 gesê oor sy dapper optrede.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê vier seuns het Woensdagmiddag gaan swem toe die see onstuimig geword het. Hy sê 'n seestroom het die vier tienerseun dieper die see ingetrek. Die voorval het by die Pennington-strand plaasgevind.

Keagan, wat saam met sy susters en vriende op die strand was, het gesien wat gebeur en vinnig gespring om te help. Hy het daarin geslaag om drie van die seuns te red. Hulle het geen mediese sorg benodig nie.

Samantha Meyrick, woordvoerder van IPSS-nooddienste, het Vrydag aan Netwerk24 gesê die ander 17-jarige seun het verdrink en sy lyk het Vrydag uitgespoel.

Keagan was Vrydag emosioneel en het gesê hy is jammer dat hy nie die ander seun ook kon red nie. Volgens hom was die seun reeds onder die water toe hy teruggekeer het om hom te probeer red.

"Ek is nou besig om deur dit alles te werk. Dit voel bietjie onwerklik en dis net jammer dat iemand dood is."

Keagan Lowe (16) Foto: Verskaf
Keagan Lowe (16) Foto: Verskaf

Hy sê die eerste oproep wat hy gemaak het, was na sy ma, Tracy-lee, om verdere hulp te ontbied. Tracy-lee het onmiddellik na die strand gejaag.

Tracy-lee sê sy het gevrees dat dit een van haar kinders is wat verdrink het.

"Ek ken nie baie mense wat hulle eie lewe op die spel sal plaas om ander te red nie, veral nie vier ander mense nie," sê sy.

Sy sê toe Keagan haar bel, kon sy hoor daar is fout.

"Ons kon Keagan verloor het. Dit maak my so emosioneel om daaraan te dink. Ons het ons kinders grootgemaak om nie selfsugtig te wees nie," sê Tracy-lee.

Sy sê Keagan se pa, Ashley, is ook lief vir die water en het ook al kinders van verdrinking gered.

Volgens haar het sy haar kinders op 'n vroeë ouderdom leer swem en ook van die see se gevare geleer. Keagan bestee die meeste van sy naweke by die see en geniet dit om lyfplank te ry.

SPELETJIES VANDAG

CTA