Die Proteas het hul 27 jaar lange eindstrydhikke uiteindelik afgeskud en is Woensdagoggend as Wêreldtoetskampioene op die O.R. Tambo-lughawe verwelkom.
Volg Netwerk24 se regstreekse dekking hier.
2025-06-18 13:49:38
McKenzie sê pres. Cyril Ramaphosa moet besluit of die spanlede geld sal ontvang vanweë hul oorwinning.
Volgens die minister is die span genooi vir middagete of aandete met die president.
McKenzie meen die span verdien tog iets, maar as alle sportsterre wat wen bonusse ontvang, sal die land bankrot wees, skerts die minister.
Die mediakonferensie is afgehandel.
2025-06-18 13:42:14
Bavuma sê hulle wil voortbou op die momentum en hulle is optimisties oor wat in die “witbal-ruimte” kan gebeur, met verwysing na T20- en eendagkrieket.
Shukri Conrad, afrigter, sê die oorwinning sal hulle selfvertroue gee.
“Sport is nie so diep nie. Jy gaan net aan,” voeg hy by.
Volgens McKenzie is dit maklik om te vra waar die swart spelers is. Die kwessie wat Suid-Afrikaners moet verstaan, is egter volgens hom dat daar geen gelyke uitkomste in enige sport sal wees as daar nie gelyke deelname op grondvlak is nie.
Volgens hom weerspieël die Proteas-span die land. 'n Wit, swart en bruin kind kan hulself in die span sien.
Volgens McKenzie is daar baie kinders van Langa wat nes Bavuma wil wees en hulle benodig toerusting. Hierdie sege strek volgens hom wyer as die veld en inspireer Suid-Afrika.
2025-06-18 13:31:11
McKenzie sê die beste rugbyspan, krieketspan en branderplankryspan, sowel as die sterkste vrou en die vinnigste aflosspan is almal van Suid-Afrika.
“Ons is sonder twyfel die beste sportnasie ter wêreld.
”Hy praat ook oor “chokers” en sê mense het nie die span 'n kans gegee nie.
Hy spreek Bavuma as “Heer Temba” aan en herhaal die land is baie trots op die Proteas.
2025-06-18 13:24:48
Bavuma sê hulle gaan net vir 'n bietjie langer die oomblik geniet.
Wanneer “ons oor onsself en die emosies kom”, sal dit gaan oor die volgende wedstryd. Hulle wil 'n nalatenskap bou as 'n span, sê Bavuma.
2025-06-18 13:14:45
Volgens hom het die Proteas nie veel ag geslaan daarop dat die Suid-Afrikaanse krieketspan vir jare as “chokers” gebrandmerk is nie.
Volgens hom het hulle aangehou om in eindstryde te speel en is geglo dat as hulle aanhou klop aan die deur, dit sou oopgaan.
Volgens hom het hulle nooit die term “chokers” as 'n span aanvaar of op spanvergaderings daaroor gepraat nie.
2025-06-18 13:11:35
Bavuma sê die ontvangs by die lughawe was “oorweldigend”.
Om die emosie te sien en te hoor gee hulle insig in wat hulle verrig het. Dit maak hulle nog meer gelukkig dat hulle die mense van die land trots gemaak het.
2025-06-18 13:04:19
Die mediakonferensie begin.
Die Protea-spelers is teenwoordig, asook onder andere Panyaza Lesufi, Gautengse premier.
Gayton McKenzie, minister van sport en kultuur, loof Temba Bavumba as ’n “fantastiese kaptein”. Hy verwys na ’n vierjarige wit seuntjie wat vanoggend op die lughawe uit volle bors gesing het om die span te verwelkom en die Proteas se oorwinning te vier. Dit was ’n lied wat Bavuma se lof besing het.
Dit is hierdie soort liedere wat eerder gesing moet word as “die Kill the Boer-nonsens”, sê McKenzie.
Volgens hom is pres. Cyril Ramaphosa en die hele kabinet trots op die Proteas.
Hy sê daar was onregverdige kritiek teen Bavuma en hy wil namens “almal wat nonsens gepraat het oor jou, om verskoning vra”.
Volgens hom is Bavuma die beste krieketkaptein wat die land nog ooit gehad het.
2025-06-18 11:33:34
2025-06-18 11:24:24Spelers gaan met 'n bus geverf in groen en goud na 'n mediakonferensie vertrek. Foto: Melinda Stuurman

2025-06-18 11:23:47'n Aanhanger neem 'n selfie saam met die Protea-speler Aiden Markram. Foto: Christiaan du Plessis

2025-06-18 11:13:06
’n Luide gejil en applous.
Só het die ondersteuners op die OR Tambo-lughawe gereageer toe hul kriekethelde oplaas hul verskyning maak.
Temba Bavuma, kaptein, het sy spanlede, soos die sterspeler Aiden Markram, met die toetssepter gelei.
Die klank van vuvuzelas het deurgaans opgeklink. Die kriekethelde het met hul medaljes om die nek gepronk en gestaan vir foto’s. Van hulle is besig om aanhangers te groet.
Die spelers het ook ruikers met fynbos en proteas ontvang.
2025-06-18 11:00:50
2025-06-18 10:49:59
Hulle is hier!
Die Proteas het gearriveer. Die span word gelei deur Temba Bavuma, kaptein. Hy dra die toetssepter.
Die sterspeler Aiden Markram is ook sigbaar. Die spanlede het almal hul medaljes om hul nekke. Daar is luide gejil en 'n applous.
2025-06-18 10:33:18

2025-06-18 10:31:28Daar is gerugte dat die Proteas reeds geland het en dat hulle binnekort in die aankomsaal van die lughawe gesig sal wys. Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, is reeds sigbaar.2025-06-18 09:50:49
2025-06-18 09:31:08Zolani Vuma van Randburg. Foto: Melinda Stuurman2025-06-18 09:25:38Daniel (9) en sy pa, Ben Winks, van Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

2025-06-18 09:19:41
Rustelose skare
'n Heldeontvangs wag op die Protea-krieketspan by die O.R. Tambo-lughawe met aanhangers wat in die aankomsaal gereed staan om die kampioene terug te verwelkom.
Daar is 'n opgewonde druising en verskeie landsvlae kan in die skare gesien word.
Zolani Vuma van Randburg skerts 'n tugverhoor is sy voorland by die werk omdat hy by die lughawe is om die “geskiedkundige oomblik” te aanskou.
Ben Winks sê ook hy het gedink dis oukei dat sy seun Daniel vandag stokkies draai by die skool om sy helde in lewende lywe te aanskou.
Daniel sê hy is baie opgewonde daaroor om onder andere Temba Bavuma, die kaptein, te sien.
2025-06-18 09:16:24Die internasionale aankomsaal op die O.R. Tambo-lughawe is 'n bynes van opgewonde afwagting. Foto: Christiaan du Plessis






















