Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) maak reeds vir sowat twee weke gebruik van alternatiewe kanale om noodsaaklike dienste en weerwaarskuwings te lewer hangende die herstel van sy webtuiste en kommunikasiestelsels.
Die weerdiens se IT-stelsels het twee weke gelede in duie gestort ná 'n kuberaanval en funksioneer steeds nie normaal nie, het Oupa Segalwe, woordvoerder van die weerdiens, Sondag bevestig.
LEES HIER | Kuberboewe haal SA Weerdiens van die lug af
"Sedert die kuberaanval het die weerdiens na die meeste belanghebbendes, vennote en kliënte uitgereik om hulle in te lig oor die uitwerking van die kuberaanval op die lewering van dienste," sê Segalwe.
Weerdienste vir die mariene en lugvervoerbedryf word deur ander kanale gelewer. Daaglikse weervoorspellings word per e-pos aan die media en rampbestuurowerhede gestuur. Voorspellings sal ook op sosialemediaplatforms versprei word.
Ishaam Abader, die uitvoerende hoof van die weerdiens, sê 'n eksterne span van kuberveiligheid-deskundiges en die weerdiens se eie IT-tegnici spook onverpoos om die virus wat deur die kuberaanvallers gebruik is om die weerdiens se stelsels te enkripteer, te verwyder en die diens se data te herwin.
"Dit moet gedoen word voordat ons begin om ons netwerk te heropen," sê Abader.
Die span kon intussen die e-pos-diens en foonstelsels herstel.
Volgens Abader neem die herstel van die stelsel 'n bietjie langer, gegewe die omvang van die kuberaanval.
Abader het alle ander belanghebbendes, vennote en kliënte wat moontlik probleme met toegang tot kritieke meteorologiese dienste ondervind en nog geen kommunikasie van die weerdiens ontvang nie, versoek om die diens te kontak.
Verder ontvang die weerdiens ook klagtes van sommige mediagroepe, veral uitsaaiers, dat hulle nie daaglikse weervoorspellings ontvang nie. Sulke mediagroepe word ook versoek om die weerdiens van e-posadresse te voorsien waarheen weervoorspellings gestuur moet word.
Enige belanghebbende wat geen inligting ontvang nie, kan Prudy Matsebula kontak by prudy.matsebula@weathersa.co.za.





















