Aktueel

Landskapskilder Gerrit Pitout sterf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die landskapskilder Gerrit Pitout met sy kamera by Auchterlonie in die Kgalagadi-oorgrenspark in die Kalahari. Foto: Verskaf
Die landskapskilder Gerrit Pitout met sy kamera by Auchterlonie in die Kgalagadi-oorgrenspark in die Kalahari. Foto: Verskaf

Die Pretoriase landskapskilder Gerrit Pitout (71) is Sondagmiddag ná 'n kort siekte in die Mediclinic Upington dood.

Pitout was saam met sy vrou, Gené, ook 'n skilderkunstenaar, op besoek aan die Kgalagadi-oorgrenspark toe hy by Mata-Mata siek geword het.

Gené was Maandag nog erg emosioneel toe sy met Netwerk24 gepraat het, maar kon nie haar dankbaarheid genoeg teenoor die gemeenskap van Upington, die personeel van die Kgalagadi-oorgrenspark, die Chateau-gastehuis en die Mediclinic beklemtoon wat hulle bygestaan het toe Pitout siek geraak het nie.

Hy is Vrydag inderhaas na Upington geneem en met hart- en nierversaking in die hospitaal opgeneem. Hy is Sondag onder verdowing geplaas, en is later die middag dood.

Pitout is veral om sy landskapskilderye bekend wat hy van die Bosveld, Kalahari en die Namibwoestyn geskilder het. Dit was die bos en natuur waaruit hy sy inspirasie geput het.

Sy werk herinner baie aan die eertydse Pierneef wat met geometriese elemente en in 'n kubistiese styl natuurtonele geskilder het.

Gené sê Pitout se reis as 'n kunstenaar het in stille eensaamheid begin. "Die sade van kreatiwiteit is vroeg in sy lewe gesaai." Sy sê hy was 'n skaam seun wat troos gevind het deur te skets en te teken.

"Hy het homself besig gehou terwyl die wêreld van skoolklieks en sosiale kringe verbygegaan het. Hy was nie gepla met gewildheid nie, maar sy eiesoortigheid het helder geskyn in sy kuns."

Een van Gerrit Pitout se meer onlangse skilderye is van die Namibwoestyn. Foto: Facebook/Gerrit Pitout
Een van Gerrit Pitout se meer onlangse skilderye is van die Namibwoestyn. Foto: Facebook/Gerrit Pitout

Pitout was 'n enigste kind. Sy ouers was Tienie en Katy en Pitout was veral na aan sy ma.

"Katy was sy anker en vertroueling. Die liefde wat hulle gedeel het, was 'n blywende draad in die tapisserie van sy lewe."

Dit was ná die gesin se skuif van Johannesburg na die landskappe van Barberton dat Pitout begin floreer het. "Die Laeveld - sy rollende heuwels, hoë bome en warm, verwelkomende klimaat - het direk tot sy siel gespreek. Hy het 'n ware Laevelder geword."

Gené sê Pitout was diep verbind tot die natuurlike skoonheid wat hom omring het. "Die skuif het 'n keerpunt in sy lewe gemerk, wat sy passie vir landskappe aangesteek het wat later sy kuns sou definieer."

Sy sê nadat Pitout gematrikuleer het, het 'n lewensveranderende besluit hom in die gesig gestaar: studie van teologie of die nastreef van onderwys. "Hy het onderwys gekies, maar met 'n doelbewuste fokus op kuns."

Volgens Gené het Pitout se pa, Tienie, 'n deurslaggewende rol gespeel in die vorming van sy artistieke loopbaan.

"Hy was 'n man van sterk akademiese statuur. Tienie het sowel 'n mentor as onderwyser vir sy seun geword. Dit was onder sy leiding dat Gerrit sy eerste uitstalling in Plaston naby Witrivier op 16 jaar gehou het."

Sy sê dié vroeë sukses het nie net Pitout se talent bevestig nie, maar ook die grondslag geskep vir 'n leeftyd toegewy aan kuns.

Nadat hy sy studies voltooi het, het hy sy eerste vrou, Alida, in Potgietersrus ontmoet.

"Sy het sy liefde vir kuns gedeel. Saam het hulle 'n lewe in die Laeveld gebou en hy het Alida se drie kinders met dieselfde liefde en sorg grootgemaak asof hulle sy eie was."

Pitout het self nooit kinders gehad nie.

Ná Alida se dood het Pitout weer liefde gevind toe hy met Gené getrou het. Sy sê hulle het 'n buitengewone band gehad. "Ons band was so diep, dit het woorde oortref."

Sy sê ondanks die verskil in hul ouderdom was hulle sielsgenote. "Ons het mekaar ondersteun en geïnspireer, die lewe genavigeer met wedersydse respek, lag en 'n ongesproke taal van liefde."

Sy sê al het Pitout nooit self kinders gehad nie, het hy die rol van pa met 'n oop hart aangeneem en Alida en Gené se kinders as sy eie grootgemaak. "Sy nalatenskap as 'n liefdevolle man en toegewyde pa is so blywend soos sy nalatenskap as 'n kunstenaar."

Gerrit se skerp geheue het 'n ander laag by sy kuns gevoeg.

Kuns was vir Pitout meer as net 'n beroep. "Dit was sy lewensbloed. Hy het dit geëet, daaraan asemgehaal en daarvan gedroom. Hy het 'n merkwaardige vermoë gehad om skoonheid in die kleinste besonderhede te sien; 'n vlugtige skaduwee, die manier waarop lig op blare gedans het, die fluistering van 'n briesie in die gras," sê Gené.

Sy sê sy landskappe was meer as uitbeeldings van die natuur; dit was vensters in sy siel wat die essensie van 'n oomblik met presisie en emosie vasgevang het.

"Gerrit se skerp geheue het 'n ander laag by sy kuns gevoeg. Hy kon tonele met fotografiese helderheid onthou, wat hom in staat gestel het om dit met merkwaardige detail en gevoel op doek oor te dra. Sy werk het diep weerklank gevind by diegene wat dit gesien het, asof hy die gees van die landskap in elke kwasstrook kon distilleer."

Sy sê Pitout het sy hart gevolg. "Hy het vreugde gevind in die landskappe wat hy liefgehad het en het dit met die wêreld gedeel."

Pitout word deur Gené en haar kinders, Mia en Christiaan, en sy vorige vrou, Alida, se kinders, Alida Picoto en Chris en Andries van der Heever, oorleef.

Pitout het gekies om nie 'n roudiens te hê nie.

• Ses van Pitout se skilderye hang in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument in Pretoria.

Die ses panele wat hier uitgestal word, is van bergreekse waaroor die Voortrekkers getrek het. Dit is deel van die Vrijheidsreis-uitstalling.

Gerrit Pitout se kunswerke hang in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument en vorm deel van die ‘Vrijheidsreis'-uitstalling. Foto: Deaan Vivier
Gerrit Pitout se kunswerke hang in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument en vorm deel van die ‘Vrijheidsreis'-uitstalling. Foto: Deaan Vivier

- anena.burger@24.com

CTA