Twee werknemers is Donderdagoggend dood aangetref in die droogtenks van die Q-Pro Feeds-aanleg in Bethlehem.
Volgens AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het kollegas op hulle afgekom toe hulle vir die oggendskof opdaag.
Die lyke is later dieselfde dag van die fabrieksterrein verwyder.
Q-Pro Feeds is ’n veevoerfabriek wat deur die VKB Groep besit word.
Die twee werkers se name is nog nie bekend gemaak nie.
Dit is nog nie duidelik wat gebeur het nie en wat die oorsaak van hulle dood is nie,” het Mophiring gesê.
“ ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en ’n nadoodse ondersoek sal uitwys wat presies gebeur het. Ons kan in die stadium nie verder oor ander aspekte van die ondersoek uitbrei nie.”
Netwerk24 het ook navraag gedoen by Neil de Klerk, streekdirekteur van VKB en uitvoerende hoof van bemarking en kommunikasie. Hy wou nie telefonies kommentaar lewer nie, maar het ’n verklaring van die Q-Pro-groep gestuur.
In die verklaring, gedateer 22 Augustus 2025, bevestig die maatskappy dat die polisie Donderdag ontbied is nadat twee mense dood op die terrein aangetref is.
“Die owerhede sal probeer bepaal wat die omstandighede was wat gelei het tot die dood van die twee mense gedurende die nag. Ons medelye gaan aan hul families, vriende, kollegas en naasbestaandes,” lui die verklaring.
















