Aktueel

VF Plus optimisties dat Graaff-Reinet sy naam sal behou

Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus.
Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus. (Lulama Zenzile)

Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, sê hy is optimisties dat Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, die regte besluit sal neem rakende die naamsverandering van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe-dorp.

“Daar is hoegenaamd geen rede waarom die naam Graaff-Reinet verander behoort te word nie, maar dit beteken nie dat Robert Sobukwe nie vereer behoort te word nie en daar is maniere om dit te doen.”

Mulder het dié stellings Donderdag gemaak tydens sy besoek aan Jeffreysbaai om die party se verkiesingsveldtog bekend te stel.

McKenzie het in Januarie aangekondig dat 21 dorpe in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal nuwe name kry.

Luidens die aankondiging in die Staatskoerant het die nuwe name amptelik in Februarie in werking getree.

Netwerk24 het voorheen berig dat van die 21 naamsveranderinge was daar baie weerstand teen veral Oos-Londen wat na KuGompo-stad en Graaff-Reinet wat na Robert Sobukwe-dorp verander is.

Die VF Plus het ook in Februarie aan McKenzie geskryf en die naam verwerp.

“Die naam Graaff-Reinet sal vir die VF Plus Graaff-Reinet bly en nie Robert Sobukwe-dorp nie. Die party doen daarom ’n beroep op die mense van Graaff-Reinet, die groter Oos-Kaap en die res van Suid-Afrika om die naamsverandering te ignoreer,” sê die party in ’n verklaring nadat hy die brief gestuur het.

Volgens die party is die naamsverandering ’n blatante voorbeeld van kulturele imperialisme waar die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner uitgewis word onder die voorwendsel van maatskaplike samehorigheid.

“Die VF Plus wil daarom vra dat mense vir wie die naam Graaff-Reinet waarde dra, getrou bly aan dié historiese naam, wat deel is van almal in die land se gedeelde erfenis en nasionale identiteit.”

McKenzie het vroeër in die parlement op vrae van Mulder oor die naamsveranderinge gereageer en gesê die openbaredeelnameproses op 26 Februarie 2024 by die Botaniese-sportterrein in Robert Sobukwe-dorp (Graaff-Reinet) is deur 303 mense bygewoon.

McKenzie het bygevoeg 11 skriftelike voorleggings is ook ontvang in die vorm van briewe en e-posboodskappe wat besware teen die voorgestelde naamsverandering geopper het.

Stacey-Lee Khojane, woordvoerder van die minister, sê by navraag sy is nie bewus van enige brief van die VF Plus oor die kwessie nie. – phiwokuhle.mothemela@media24.com