ANC-kongres

ANC: Emosies loop hoog met uitslae

Met sy hande saamgevou en sy oë vir 'n paar tellings geslote soos iemand wat bid, het adj.pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand sy sitplek op die verhoog van die Nasrec-eksposentrum by die tafel ingeneem minute nadat hy as die nuwe ANC-president aangekondig is.

Dié vinnige skietgebed - duidelik uit dankbaarheid vir sy oorwinning van 2 440 stemme teenoor dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se 2 261 - kon egter nie lank duur nie, want die aankondigings van die ander topses-leiers van die ANC het kort daarna gevolg.

Enkele meter van die verhoog af, uitgedos in 'n groen kopdoek en rok in die ANC se kleure van groen, swart en geel, het Dlamini-Zuma in die voorste ry stoele digby die media gesit. Haar gesigsuitdrukking het niks verklap nie, maar sy het - nadat die oorverdowende gejuig vir Ramaphosa losgebars het - ook opgestaan en hande geklap.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa sit diep ingedagte nadat aangekondig is dat hy die nuwe ANC-president is. Foto: Felix Dlangamandla
Adj.pres. Cyril Ramaphosa sit diep ingedagte nadat aangekondig is dat hy die nuwe ANC-president is. Foto: Felix Dlangamandla

Haar lippe was saamgepers en sy het uitdrukkingloos voor haar gekyk terwyl joernaliste haar met hul selfone afgeneem het.

Nadat sy weer haar sitplek ingeneem het, het Edna Molewa, minister van omgewingsake, en Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, wat aan weerskante van haar gesit het, haar simpatiek aangekyk. Hul gemoedere het egter gelig toe David Mabuza, premier van Mpumalanga, as ANC-adjunkpresident, Ace Magashule as sekretaris-generaal en Jessie Duarte as adjunk-sekretaris-generaal aangewys is.

Joernaliste en fotograwe wat soos gr. 1-leerlinge voor in die saal op die mat sitgemaak is, het 'n goeie halfuur voor die tyd snuf in die neus begin kry van 'n Ramaphosa-oorwinning. Uit die vroulike NUK-lede se lyftaal was dit duidelik dat hulle diep bekommerd was.

'n SMS dat die Ramaphosa-kamp Maandagmiddag sjampanje bestel het, asook 'n twiet deur Julius Malema, EFF-leier, wat gelui het "It's a boy", het kort daarna enige onsekerheid van 'n Ramaphosa-oorwinning uit die weg geruim.

'n Uitbundige gesing en dans deur Dlamini-Zuma se ondersteuners het die spanningsvolle wag vir die amptelike aankondiging deur die verkiesingskommissie gekenmerk. "Staan op, jou tyd is hier, Nkosazana," het dit deur die reusesaal, wat getooi was in ANC-kleure, weergalm. Hul energieke sang het die ander lofprysinge vir Ramaphosa elders in die saal verdoof.

Toe Dlamini-Zuma se gesig op die groot skerm verskyn, het haar ondersteuners haar luidkeels toegejuig, maar hulle het Ramaphosa uitgejou.

Dit was eers nadat S'dumo Dlamini, Cosatu-voorsitter, op die podium geklim en vryheidsliedere ingesit het dat die saal weer uit een mond gesing het. Pres. Jacob Zuma het self by hom oorgeneem met sy kenmerkende Umshini Wami, voordat hy vir oulaas die wapen as ANC-president neergelê het.

CTA