Jackson Mthembu, uitgesproke hoofsweep van die ANC in die parlement, het vir adj.pres. Cyril Ramaphosa as volgende ANC-president gestem omdat hy gestem het "om die ANC en my land" te red.
Mthembu was Maandagoggend een van verskeie hooggeplaaste ANC-lede wat openlik op sosialemediaplatforms soos Twitter bekend gemaak het vir wie hulle in die geheime stemmery vir die ANC se topses-leierskap by die party se nasionale konferensie in Johannesburg gestem het.
Die stemmery het deur die loop van Sondagaand en Maandagoggend plaasgevind, met die laaste provinsie wat na verneem word teen 11:00 Maandagoggend klaar gestem het.
Die aankondiging oor wie vir pres. Jacob Zuma as ANC-president sal opvolg, sal na verwagting later Maandag tydens 'n oop sessie in die hoofkonferensiesaal gedoen word.
Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma is tans die twee hoofmededingers in die stryd om die ANC se topposisie.
Mthembu het in die oggendure Maandag nie sy keuse oor wie die ANC moet lei, weggesteek nie, toe hy getwiet het dat hy vir Ramaphosa "en vyf ander ANC-leiers wat nie gekorrupteer kan word nie" gestem het.
"My stem is om die ANC en my land te red. Ons moet."
In 'n aparte twiet het Mthembu verder gesê hy is vol vertroue dat die nasionale konferensie die proses sal begin om die ANC van staatskaping en korrupsie te red. "Ja, dit moet. Die nasionale konferensie moet die integriteit van ons beweging herstel. Dit moet ook die vertroue van ons mense deur bekwame leierskap herstel."
Fikile Mbalula, minister van polisie, wat tot op die nippertjie sy kaarte oor wie hy in die ANC-leierskapstryd steun, styf teen sy bors gehou het, het sy steun vir Dlamini-Zuma luidkeels uitgebasuin.
"Ek het nou net vir die moederprinses NDZ (Dlamini-Zuma) gestem."
In 'n ander twiet het Mbalula, nadat 'n ander Twitter-gebruiker aan hom gesê het hy het net so gestem om sy werk te kan behou, gesê: "As ek vir die ander kandidaat gestem het, sou dit ook nie gewees het om my werk te behou nie?
"Nie alles gaan daaroor om 'n werk te hê nie, en dit word nou al afgesaag."
Zizi Kodwa, wat saam met Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, Maandagoggend sy laaste mediakonferensie as ANC-woordvoerder gehou het, het ook Maandagoggend getwiet: "Ek stem vir kameraad Ramaphosa vir ANC-president. Wat ook al gebeur, vertrou ek dat hy vertroue sal herstel en hoop sal inspireer. Dit is die vroeë oggendure, maar dit was die moeite werd."
Derek Hanekom, ANC-LP vir wie Zuma in sy kabinetskommeling in Maart vanjaar as minister van toerisme afgedank het, het getwiet dat hy omstreeks 02:30 Maandagoggend gestem het. "Ja, natuurlik het ek gestem. Ja, natuurlik vir @DPRamaphosa."
Dit is egter nie net ANC-leiers wat hulle op Twitter uitgelaat het oor die ANC se verkiesing nie.
Floyd Shivambu, EFF-hoofsweep en voormalige adjunkpresident van die ANC-jeugliga, het getwiet: "Die tyd vir die waarheid het aangebreek. Die leier van die amptelike opposisie van 2019 af sal binnekort verkies word by die (nasionale konferensie). Dit is voor die hand liggend wie gaan wen en hy moet die eer hê om in die parlement te dien, al het die ANC nie 50%-steun nie".
Mmusi Maimane, DA-leier, het getwiet: "Wat duidelik van die (ANC-)konferensie is, is dat enige wenner 'n klein mandaat oor 'n verdeelde organisasie sal hê. Dit sal gevolge hê vir die aanstelling van kabinetslede, premiers, ensovoorts. Dit sal gevolge vir dienslewering hê. DD (David Mabuza, Mpumalanga se premier) sal die adjunkpresident wees. Laat daardie gedagte insink. Ons het 'n nuwe begin nodig, totale verandering."















