'n Vindingryke, talentvolle figuur in SA se politiek

Hy kan nooit terugkom politiek toe nie, want hy gaan altyd die merk van 'n kapitalis dra. En hy gaan sy magsbasis vir altyd verloor.
Elke kommentator het hieroor saamgestem toe Cyril Ramaphosa (65) in 1996 die aktiewe politiek groet en 'n briljante loopbaan in die sakewêreld begin het.
Maar hy is een van die mees vindingryke en talentvolle figure op ons politieke toneel. 'n Hoëprofielvakbondleier en van sy beste vriende het destyds reeds gesê: Cyril kom terug. Om president te word.
Daarom staan hy vandag tussen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma en die presidentskap, teen al die destydse verwagtinge in. Al verloor hy die stryd, het hy beslis die doemprofete van destyds verkeerd bewys met wat hy reeds bereik het.
Hy is intens privaat, maar weet presies hoe om net die regte inligting aan die wêreld daarbuite te voer.
Hy beweeg stilweg op die kantlyn terwyl hy sy teenstanders se swak plekke soek. En hy het 'n bykans magiese vermoë om op presies die regte oomblik op die voorgrond te tree en met verstommende aggressie op swak plekke toe te slaan.
Mandela wou Cyril as sy opvolger hê.
In April 2012, 16 jaar nadat hy uit die aktiewe politiek padgegee het, het hy asof van nêrens verskyn toe dit begin lyk of Julius Malema en die ANC-jeugliga die wêreld warm maak vir pres. Jacob Zuma.
Malema was van plan om dit onmoontlik te maak vir Zuma om as ANC-president op die party se leierskonferensie in Mangaung herkies te word.
Maar Ramaphosa was voorsitter van die ANC se appèlkomitee vir tugverhore. Sy appèlkomitee skors Malema permanent uit die ANC en wen só Zuma se vertroue.
Agt maande later in Mangaung soek Zuma inderhaas 'n waardige adjunk om die plek te neem van Kgalema Motlanthe, wat ter elfder ure voor die Mangaung-leierskonferensie nie langer kans sien vir Zuma se skandes nie en besluit om Zuma teen te staan vir die presidentskap.
Zweli Mkhize, destyds Zuma se naaste vertroueling maar wie se kanse nou bitter skraal is om op dié konferensie in die topses te eindig, en Ace Magashule, wat vandag vir sy politieke oorlewing teen Ramaphosa veg om Vrystaatse leier van die ANC te bly, het tot hul verligting op Ramaphosa "afgekom".
In daardie stadium het verskeie takke hom reeds as hul kandidaat vir die adjunkpresidentskap benoem. En dit het nie vanself gebeur nie . . .
Hulle het hom letterlik die aand voor die konferensie "oortuig" om Zuma se adjunkpresident te word en aanvaar hy sal nie die amp van president najaag sonder 'n tweede uitnodiging van hulle nie.
Hulle was verkeerd.
Die ironie strek nog verder. Ramaphosa is in Mangaung tot adjunkpresident verkies met 40 meer stemme as wat Zuma vir sy tweede presidentstermyn van die 4 500 afgevaardigdes gekry het.
Die vyf jaar sedertdien kon nie vir Ramaphosa maklik gewees het nie. Hy het deurentyd in die skaduwee geloop van die skandaligste president in die land se geskiedenis.
Daar is nêrens 'n sweem van getuienis dat hy by staatskaping of ander korrupsie betrokke is nie. Maar onvermydelik kry hy ook pak vir Zuma-skandes soos Nkandla, die Sun City-bruilof en die Tegeta-oorname van die Optimum-steenkoolmyn.
Die gemors smeer aan hom af, al is dit net omdat hy stilgebly het toe dit gebeur het.
Aan die ander kant: As hy 'n vinger sou lig om teen Zuma op te staan, sou hy ongetwyfeld die trekpas gekry het soos baie ander. En sou Dlamini-Zuma waarskynlik vandag onbestrede die ANC se president geword het.
Ramaphosa is self verantwoordelik vir die grootste blaps van sy loopbaan: Die onbesonne uitlatings oor die staking van mynwerkers by Marikana net vier maande voor die Mangaung-konferensie.
Daar is geen manier waarop hy kon voorsien het dat die polisie hul magte heeltemal sou oorskry en 34 van die stakers koelbloedig sou doodskiet nie.
Maar dit gaan vir altyd 'n klad op sy naam wees dat hy Nathi Mthethwa, destyds minister van polisie, aangepor het om die stakers hard te slaan ná wreedaardige moorde deur hulle in die dae voor die slagting.
Ramaphosa verdien ná oudpres. Nelson Mandela die grootste erkenning vir die skep van postapartheid Suid-Afrika. As onderhandelaar was daar eenvoudig geen gelyke vir hom by Kodesa nie, waar die tussentydse grondwet geskryf is en wat hy later tot die 1996-Grondwet van Suid-Afrika deur die parlement gevoer het.
Dit is algemeen bekend dat Mandela sou verkies dat Ramaphosa hom opvolg. Toe Thabo Mbeki Ramaphosa in die opvolgstryd tussen hulle klop, het Mandela Ramaphosa aangeraai om die sakewêreld te betree en later terug te keer na die ANC soos wat hy dit vandag doen.
Soos Mandela, behoort Ramaphosa tot die charteriste in die ANC - anders as Mbeki en Zuma wat albei as Afrikaniste bestempel word.
Mbeki en sy binnekring het min ooghare vir die charteriste.
Hoewel hulle net so gewalg is deur die wandade en hebsug van Zuma-patronaatskap, is dit opvallend dat niemand uit Mbeki se destydse binnekring vandag aktief aan Ramaphosa se veldtog meedoen of hom openlik onderskryf nie.
Die Afrikaniste is nou verweef met die Zuma-kamp. Supra Mahumapelo, premier van Noordwes en een van Zuma se steunpilare, was in 2007 by Polokwane in beheer van Mbeki se verkiesingsveldtog.
Maar Ramaphosa het hulp van sy eie gehad. As hy dit ondanks die onderduimshede teen hom regkry om vandeesweek president van die ANC te word, sal hy baie van die erkenning daarvoor aan Gwede Mantashe moet gee.
Ramaphosa self het geen magsbasis gehad toe hy in 2012 terugkom aktiewe politiek toe nie, maar Mantashe het gesorg dat hy dit kry: in die Oos-Kaap, in die Gautengse ANC en in Cosatu, al is Cosatu vandag ook 'n skadu van wat hy was. En in die SAKP.
En nou is hy op die punt om uiteindelik president te word - van die ANC. 'n Diep verdeelde ANC waarvan die steun onder kiesers reeds tot onder 50% gedaal het. Dit is geen uitgemaakte saak dat Ramaphosa vandeesweek gaan wen nie, maar as hy dit regkry, wag daar weer 'n enorme uitdaging op hom om die ANC te herbou.
Dit kan gebeur dat hy president van die ANC word, maar dat die party in 2019 sy meerderheid by die kiesers verloor. Een van die hoofredes waarom die ANC dit nie kan bekostig dat hierdie leierskonferensie skeefloop en uitgestel word nie, is die noodsaaklikheid daarvan om vir die algemene verkiesing in 2019 te begin voorberei.
Dit is ook een van die Ramaphosa-kamp se sterkste argumente in hul veldtog: Dat die ANC 'n baie beter kans het om sy steun onder kiesers terug te wen met hom as president as onder Dlamini-Zuma. Daarom moet 'n mens verwag dat Zuma nie veel langer president van die land gaan bly indien Ramaphosa wen nie.
Sy teenstanders veg nou met die rug teen die muur: As hul kandidaat die onderspit delf, gaan dit vir hulle ondergang en selfs tronkstraf beteken. Dit maak hulle baie gevaarlik. Vir hulle sal die enigste "demokratiese" uitslag op die konferensie een wees waarin hulle wen.

Nie 'n slegte kandidaat nie, maar omring van die vrotstes
Die ANC het gister vir die eerste keer in sy bestaan van 105 jaar 'n vrou as presidentskandidaat op die stembrief gehad.
"Dis klaar geskiedenis, nou laat ons dit oor aan die afgevaardigdes en die Allerhoogste."
Met dié woorde het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (68) haar laaste toespraak Woensdagaand afgesluit by 'n dinee wat die vroueliga vir haar in Kempton Park gereël het.
Dáár is haar lof heelaand besing: "gebore om te lei", "sy is nie korrup nie", "sy het 'n kragtige visie, is dapper" en "sy sal altyd najaag wat goed is vir die ANC en die land".
Skoolmeisies in uniforms het haar agtergrond en manifes op voortreflike wyse uitgebeeld.
Die laaste paar maande het Dlamini-Zuma, onder staatsbeskerming, plattelandse gebiede van veral die premierligaprovinsies platgery en radikale ekonomiese transformasie verkondig - en benewens 'n volskaalse onderhoud op ANN7 die hoofstroommedia vermy.
Sy sou op dorpe aankom en begroet word deur verskillende soort mense, meestal vroue in groen.
Nadat die T-hemde uitgedeel is, moes hulle luister na Dlamini-Zuma se relaas oor radikale ekonomiese bemagtiging, wat sy vir vroue sal doen en hoe bemagtiging onder haar leierskap sal gedy.
Sy beklemtoon die rol van vroue, veral agtergeblewenes. Haar danspassies steek sleg af by dié van haar eksman, pres. Jacob Zuma, maar haar toesprake is ewe vervelig.
Woensdagaand sê sy met verwysing na die Vryheidsmanifes onder toejuiging: "As Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, moet die grond ook behoort aan almal wat daarin woon."
En: "Die land smag na openbare verteenwoordigers wat die land eerste stel."
Sy is ‘skoon' en nie geraak deur groot skandale nie.
Waarnemers sê dit is juis hier waar die pap op die grond val: Sy is nie regtig so 'n slegte kandidaat nie, maar sy omring haar met die vrotstes.
Hieronder tel Bathabile Dlamini, die ANC se vroueligavoorsitter wat deur baie waarnemers as die swakste kabinetsminister beskou word. Dit was Dlamini wat veiligheid vir haar kinders gereël het teen R1 miljoen van armes se Sassa-geld. Faith Muthambi, nog 'n vrot appel, was ook Woensdag aan NDZ se sy.
Ook Ace Magashule besing haar lof. Dit was in die Vrystaatse premier se provinsie wat die Guptas 'n vroeë vastrapplek gekry het in 'n melkplaasprojek waarvan miljoene uiteindelik via Dubai gevloei het om vir dáárdie Gupta-troue by Sun City in 2013 te betaal.
Die veroordeelde bedrieër Carl Niehaus figureer prominent in Dlamini-Zuma se veldtog asook die jeugligaleier Collen Maine, wie se huis van R5,4 miljoen deur die Guptas betaal word.
Talle ander ongures is deur NDZ se ondersteuners vir die nasionale uitvoerende komitee (NUK) benoem.
Wen sy die ANC-leierskap, sal Dlamini-Zuma hulle moet beloon.
Bheki Cele, lid van die party se nasionale uitvoerende komitee en oudkommissaris van polisie, sê aan Talk Radio 702: "Die mense wat sy saambring, maak ons regtig bang. Ons is baie skepties oor die invloed wat hulle op haar kan uitoefen. As jy met sulke mense saamwerk, wonder jy hoe sal haar kabinet lyk," het Cele Dinsdag gesê.
Zackie Achmat, aktivis en stigter van die Treatment Action Campaign (TAC), het op Twitter aan Dlamini-Zuma geskryf hy het hoë agting vir haar, maar kan hom nie vereenselwig met die mense aan haar sy nie.
Sy het haarself bewys as 'n naprater van die Bell Pottinger-narratief, naamlik dat die land polities bevry is terwyl ekonomiese bevryding swart mense bly ontwyk.
Dlamini-Zuma praat baie oor radikale ekonomiese transformasie. Sy beskryf dit as die verandering in die struktuur, stelsels, instellings en patrone van eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie om alle Suid-Afrikaners in te sluit, maar is vaag oor hoe dit moet gebeur.
Richard Poplak, senior joernalis van The Daily Maverick, sê Dlamini-Zuma is 'n voortsetting van die Zuma-plunderprojek. Sy en haar eksman het dieselfde vriende, dieselfde retoriek en dieselfde donker uitkyk.
Ander opmerkings deur NDZ wat die wenkbroue laat lig, is dat kinders in voormalige model C-skole geleer word "om die ANC te haat". Hulle word geleer die ANC is korrup en sleg, het sy vroeër vanjaar by 'n kaderforum in Sasolburg in die Vrystaat gesê.
Toe sy minister van buitelandse sake in pres. Thabo Mbeki se kabinet was, is sy skerp gekritiseer vir haar beleid van "stille diplomasie" in reaksie op die grondroof, demokratiese vergrype en anti-wit-rassisme in Zimbabwe.
Dlamini-Zuma was in Desember 2007 die kandidaat vir adjunkpresident op die Mbeki-lys by Polokwane.
Die Zuma-faksie het gewen, maar sy is darem tot die NUK verkies.
Haar volgelinge hou vol sy is "skoon" en nie geraak deur enige groot skandale nie. Toe sy egter minister van gesondheid (1994 tot 1999) was, is sy betrek by die Sarafina II-debakel en die geldelike belegging en bevordering en ontwikkeling van Virodene, 'n "Afrika-oplossing" vir die MIV/vigspandemie. Die "kwak-oplossing" is deur wetenskaplikes verwerp.
In die Sarafina II-skandaal is 'n kontrak van R14,27 miljoen van die departement van gesondheid aan Mbongeni Ngema, 'n vriend, gegee om 'n opvolg van die musiekspel Sarafina II (koste: R9 miljoen) te doen. Dit het agterna geblyk die Europese Unie, wat MIV-vigsprojekte in SA geborg het, was nie ingelig daaroor soos Dlamini-Zuma voorgegee het nie. Die bedrag was gelyk aan 'n vyfde van die jaarlikse vigsbegroting.
Onder haar suksesse tel die Wet op die Beheer van Tabakprodukte (1999), wat sigaretrook in openbare geboue verbied.
In 2011 het die departement van binnelandse sake sy eerste skoon oudit gekry. Sy kry nou nog lof vir die wyse waarop die departement reggeruk is.
Dlamini-Zuma was tussen 1994 en 1999 minister van gesondheid en van 1999 tot Mei 2009 minister van buitelandse sake. Daarna was sy minister van binnelandse sake in die Zuma-kabinet totdat sy in 2012 bedank het.
Op 15 Oktober 2012 is Dlamini-Zuma tot voorsitter van die kommissie van die Afrika-Unie (AU) verkies. Sy was die eerste vrou wat die AU gelei het, maar was nie gewild onder amptenare daar nie, wat haar beskryf het as afsydig, onbelangstellend en afwesig.
Dlamini-Zuma het einde Januarie by die AU klaargemaak en amptelik in Februarie met haar veldtog begin - maar onder omstredenheid omdat sy beskerming ontvang het gelykstaande aan dié van 'n president.
Sy het minder benoemings van ANC-takke gekry as Ramaphosa, maar baie van haar benoemings kom uit provinsies met groter takke, dit wil sê meer afgevaardigdes.
Dlamini-Zuma is deur die sogenaamde premierligaprovinsies benoem, wie se voorsitters almal haar eksman ter wille is. Die ANC-vroueliga, sowel as die jeugliga, het reeds vroeg hul steun aan haar gegee. Maar albei organisasies is verdeeld. As Dlamini-Zuma as ANC-leier aangewys word, toon peilings die ANC kan in 2019 by die stembus sukkel, veral in Gauteng.


















