Die ANC se 54ste nasionale verkiesingskonferensie vind presies 'n dekade ná die Polokwane-konferensie, wat 'n keerpunt vir die ANC én die land was, plaas. Henry Jeffreys, Willem Jordaan en die fotograaf Felix Dlangamandla was daar.
Die Polokwane-konferensie het in 'n gelaaide atmosfeer begin. Dit was tyd vir afrekening. Twee jaar tevore, in Junie 2005, het pres. Thabo Mbeki sy adjunk, Jacob Zuma, die trekpas gegee, nadat Zuma se vriend en voormalige "finansiële raadgewer", Schabir Shaik, skuldig bevind en tronk toe gestuur is weens korrupsie.
Die spanning binne die ANC is verder opgejaag toe dit blyk dat Mbeki, wat nie 'n derde termyn as president kon dien nie, wel 'n derde termyn as ANC-leier in die visier gehad het. Die Zuma-kamp het hom beskuldig dat hy vanuit Luthuli-huis sy greep op landsake wou behou.
Die slagveld
Polokwane sou die slagveld word waar die Mbeki- en Zuma-kampe in die ope teen mekaar te staan sou kom ná 'n lang magstryd wat die leierskap deurentyd sy bes gedoen het om te ontken. Vyf dae van drama, hoogspanning en politieke intrige sou wys hoe hol hierdie ontkennings was.
Vanaf die eerste dag, met die aankoms van die sowat 4 000 afgevaardigdes op Polokwane, het die verdeeldheid soos 'n skeur ná 'n aardbewing deur die konferensie geloop. As politieke skouspel was die konferensie 'n politieke joernalis se droom. Dit is deur die wêreld se media gedek. Verblyf in die gewoonlik stil Polokwane was reeds maande vooruit vol bespreek. Die Holiday Inn - op die hoek van Thabo Mbeki- en President Paul Krugerstraat - en 'n kafeteria op die kampus van die Universiteit van Limpopo sou die vestings wees van waar Die Burger se span die gebeure dek.

Dit was drukkend warm. Die hoë humiditeit het die donderwolke laat saampak en smiddae het die donderslae en weerlig die komende reënbuie en koeler temperature aangekondig. Maar niks kon die stygende hitte binne die regerende party stuit nie.
Sowat van gissings, voorspellings en sommer net skinderpraatjies oor wat nou eintlik aan't gebeur is, is nog selde beleef. Wie is vír Zuma? Wie is téén Mbeki? Wie is voor in die pylvak?
Die Zuma-ondersteuners se dawerende optimisme kon jy sommer met die intrapslag reeds sien. Ten spyte van die reëling dat afgevaardigdes nie openlik stemming moet maak met die gesig van hul voorkeurkandidaat op plakkate en T-hemde nie, was Zuma se kenmerkende glimlag óral. Net hier en daar was die strakker Mbeki-gesig te sien - ook op 'n T-hemp wat aan die brand gesteek is.
In die groot markiestent het die Zuma-kamp dadelik sy stempel afgedruk. Sommer met die openingsessie het hulle dit vir Mosiuoa Lekota, voorsitter en luitenant van Mbeki, onmoontlik gemaak om die program te laat vlot.
Comrades
"Comrades..." sou Lekota moedig begin.
Dawerend het "Awuleth' umshini wami, umshini wami …" (bring my masjiengeweer) dan in die markiestent en oor die kampus gedreun. Lekota het duidelik geen beheer oor die Zuma-gesinde gehoor voor hom gehad nie.
"Comrades … " sou Lekota weer probeer, dié slag meer onseker in sy stemtoon.
"Awuleth' umshini wami …" kom die strydlied dan weer, dié slag nóg luider, nóg uitbundiger. Op die maat van hierdie kenwysie het Zuma nou begin om uit die beskuldigdebank in die hof na die presidentskantoor in die Uniegebou te marsjeer. Gedra op hierdie deuntjie, sou hy al dansend Nommer Een word. Die smeulende spanning in die ANC het nou in 'n openlike rebellie ontaard. 'n Strugglelied wat voorheen gesing is deur lede van Umkhonto we Sizwe teen die apartheidsregering, is hier deur ANC-lede gesing teen hul dienende president.
"Comrades, we must …"
'Change! Change!'
Weer kom Lekota nie verder nie en word gestuit met die eise van "Change! Change!" Uit die gehoor wys die Zuma-ondersteuners die kenmerkende tweevinger-sirkelgebaar van sokkerondersteuners wat ontevrede is met 'n speler op die veld en wil hê dié moet met 'n ander vervang word.
Só bars die uitjouery los met elke gesig van 'n Mbeki-ver¬troueling wat op die grootskerms in die markiestent verskyn. "Hamba Essop Pahad, hamba!" … "Hamba Manto, hamba!"… "Hamba, Lekota, hamba!"
Met elke moontlike geleentheid word die verrigtinge ontwrig. Of dit nou gaan oor wie optree as voorsitter, of oor hoe die stemme getel word (met die hand of elektronies), die Zuma-kamp gee luid te kenne dat Mbeki-hulle nie te vertrou is nie.
Lekota probeer weer. Hy maan die afgevaardigdes dat die voetestampery die vloer van die markiestent kan laat meegee. Hy word uitgejou. Die voete word nóg harder gestamp.

Selfs 'n boodskap van oudpres. Nelson Mandela waarin hy sy diepe kommer oor die verdeeldheid oordra - tesame met die waarskuwing dat dit die organisasie kan vernietig - word verdring deur luidkeelse eise dat Mbeki moet val.
Deur dit alles sit Zuma, stil soos 'n sfinks. Hy verroer nie 'n vinger om sy ondersteuners tot orde te roep nie.
Die tyd breek aan vir Mbeki se openingsrede. Slegs die ingrepe van Kgalema Motlanthe, indertyd sekretaris-generaal van die ANC en die Zuma-kamp se gunsteling om die nuwe adjunkpresident te word, laat die skare genoegsaam bedaar vir Mbeki om te praat.
Korrupsie, patronaatskap en magsug
Die president nader die podium stadig. Hy lewer sy toespraak in sy kenmerkend ingetoë, kliniese, selfs afgetrokke styl. Hier en daar mik hy 'n bedekte dwarsklap in die rigting van Zuma en sy ondersteuners, maar dit is gou duidelik dat geen woordryke redenasie in 'n toespraak van 43 bladsye die opruiende golf van Zuma-steun gaan stuit nie.
Verhewe verwysings na groot ANC-geeste soos John Dube, Sefako Makgatho, Zacharias Mahabane, Albert Luthuli en Oliver Tambo val op dowe ore. So ook die teregwysing dat "sekere negatiewe en onaanvaarbare neigings" kop uitsteek in die ANC en die oorlewing van die ANC as dienaar van die mense bedreig. Ook die vermaning dat "selfverryking en gierigheid" die ondergang van die ANC kan beteken. óók sy waarskuwings oor "korrupsie, patronaatskap en magsug".
Mbeki se toespraak word in stilte aangehoor, 'n byna gechoreografeerde teenstelling met die voorafgaande uitbundigheid. Net hier en daar hoor jy 'n halfhartige poging tot toejuiging, hoofsaaklik uit die Oos-Kaapse blok van afgevaardigdes. 'n "Viva, Thabo Mbeki, viva!" verdwyn in die bedompige Desemberlug.
Opeens is Mbeki se toespraak van twee-en-'n-half-uur verby. Gedempte applous word gou verdring. "Awuleth' umshini wami, umshini wami …"

In die dae wat volg troef "Zuma se ANC" telkens "Mbeki se ANC". Gesprekke oor beleidsake maak plek vir magsmakelary. Eiebelang en faksiebelange begin kalwe die nasionale belang uit. Landsake swig voor bitter, interne vergeldingsoorloë.
'n Trotse bevrydingsparty keer in op homself.
Die stemmery verloop ook in 'n atmosfeer van algehele wantroue. "Afgevaardigdes mag nie in die stemrye met mekaar gesels nie," kom die boodskap van die kieskommissie wat die stemmery bedryf. "Niemand mag by die stemlokaal in die universiteitsbiblioteek sing nie en niemand mag hier probeer stemme werf nie."
Ná klagtes van die ANC-jeugliga dat afgevaardigdes glo aangepor word om 'n selfoonfoto van hulle en hul stembriewe te neem sodat diegene wat "reg stem" R10 000 deur Mbeki Bpk. betaal kan word, word kameras en selfone ook in die verkiesingslokaal verbied.
Maar uiteindelik laat die uitslag geen ruimte vir twyfel nie. Mbeki kry 1 505 stemme, Zuma 2 329.
"Awuleth' umshini wami" bou op tot 'n crescendo van vreugde vir sy kamp. Zuma straal, slaan sy hande saam, maak 'n diep buiging voor sy juigende ondersteuners.
Die verwese president
Vir Mbeki en sy binnekring was dit die ergste uitslag denkbaar - 'n politieke loopbaan wat eens veel beloof het, staan nou op 'n einde. Die president staar vir 'n ruk verwese voor hom uit, duidelik in 'n dwaal ná die nederlaag wat hy aan die hand van sy voormalige luitenant ontvang het.
Rondom hom dans Zuma en sy nuutverkose top-ses leiers. Mbeki word nie die vernedering gespaar nie. Later staan hy op, glimlag stram, skud Zuma se hand, omhels hom vlugtig en verlaat die verhoog voor in die markiestent.
Mbeki lyk kleiner, broser as gewoonlik, met skouers wat hang in die oorgroot kakie windjekker wat hy stywer toetrek voor hy na buite padgee die Desembernag se nattigheid in. Binne die tent vloei die trane by sy ondersteuners.
Later, by die hekke van die Universiteit van Limpopo, het die duur Duitse ampsmotors, byna deur die bank pikswart met getinte vensters, uitgestroom met Mbeki se kabinetslede - elk op die agtersitplek, bes moontlik alleen met die besef dat die bestuur van die land binnekort nie meer in hul hande sou lê nie. Hul vrese sou nie ongegrond wees nie, want die politieke teregstelling van die Mbeki-administrasie sou vinnig voltrek word toe Zuma eers in Luthuli-huis stelling ingeneem het.
Die land gaan nog die prys betaal
Daar het Zuma ook planne gesmee om hom behoorlik op Mbeki, (tydelik) terug in die Uniegebou, te wreek. Nege maande later, in September 2008, is Mbeki deur Zuma se ANC uit die presidensiële kussings gelig en Kgalema Motlanthe is in sy plek as president van die land aangewys, om die stoel in die Uniegebou vir Zuma warm te hou.
By die Holiday Inn in Polokwane was 'n paar van Thabo Mbeki se vertrouelinge, insluitend 'n paar kabinetslede, byeen.
'n Verslae oudminister Kader Asmal het gestaar na die ys wat in sy Ierse dubbelwhiskey rinkel, opgekyk en gesê: "Die ANC het vanaand vir altyd verander. Die land het vir altyd verander. Almal, selfs húlle wat Zuma help verkies het, gaan nog die prys betaal …"
HENRY JEFFREYS was tydens die Polokwane-konferensie redakteur van Die Burger en WILLEM JORDAAN, nou redakteur, was die politieke redakteur. FELIX DLANGAMANDLA, tans fotojoernalis by Netwerk24, was toe 'n fotojoernalis vir Beeld, susterskoerant van Die Burger. Hierdie artikel is voorheen gepubliseer in Die Burger 1915 - 2015: Sy mense en hul stories.

















