Duisende ANC-lede, media en ontleders van oor die land heen keer aanstaande week terug na die Johannesburg-eksposentrum in Nasrec vir die party se 54ste nasionale konferensie.

In Julie is die ANC se nasionale beleidskonferensie daar gehou. Vandeesmaand is dit egter die eerste keer dat die ANC se nasionale konferensie daar plaasvind.
Dit is op dié konferensie vanjaar van 16 tot 20 Desember waar die ANC die opvolger vir pres. Jacob Zuma as president van die party gaan verkies.
In syfers:
* Minstens 5 000 afgevaardigdes van die ANC sal na verwagting op die konferensiesentrum toesak, insluitend verteenwoordigers van die takke, provinsies en ander liggame van die party.
* Die Eksposentrum is in die suidweste van Johannesburg geleë, naby Gold Reef City en die Apartheidsmuseum, en sowat 30 minute se ry van die OR Tambo Internasionale Lughawe af.
* Dit bevat altesame tien sale vir uitstallings, met 'n gesamentlike ruimte van meer as 50 000 m² en 'n arena wat 20 000 mense kan akkommodeer.
* Buite is daar twee terrasse, 'n baan vir viertrekvoertuie en uitstalruimte van meer as 100 000 m² wat vir buitelug-geleenthede gebruik word.
* Daar is ook konferensiesale van altesame 4 000 m², met vyfster-spyseniering wat aangebied word.
* Die sentrum beskik oor meer as 20 000 parkeerplekke en het 'n gesamentlike kapasiteit vir meer as 100 000 mense.
Groot byeenkomste:
* Desrae McDonnell, uitstallings- en geleentheidsbestuurder van die Johannesburg-eksposentrum, sê daar is al verskeie internasionale byeenkomste in die sentrum gehou vandat die Randse Skou die eerste keer in 1984 daar aangebied is.
* Dit sluit in die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling wat in 2002 gehou en afvaardigings van oor die wêreld heen ontvang is. Regerings het op die beraad onderneem om die wêreld se uitgeputte visbronne teen 2015 te laat herstel.
* Tydens die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi het die geriewe ook as 'n uitsaaisentrum gedien.
* In Julie 2005 het die departement van landbou en grondsake sy Grondberaad in die sentrum aangebied om ervaring met grondhervorming uit die buiteland te deel en gesprekke oor Suid-Afrika se grondbeleid aan te moedig.
* Die Randse Skou word ook nog gereeld by die Eksposentrum gehou, asook die Johannesburg-motorskou.
* Luidens die Eksposentrum se webwerf is dit die grootste uitstal- en- konferensiegeriewe wat in Suid-Afrika gebou is.
Dit word gedeeltelik besit deur die Britse maatskappy Montgomery Group, die swartbemagtigingskonsortium Fluxrab, die sakeman Raymond Burke en Craig Newman, die uitvoerende hoof.




















