JZ looi ‘vyande’, private sektor 2 ure lank

President Jacob Zuma praat by die ANC se nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier
President Jacob Zuma praat by die ANC se nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Pres. Jacob Zuma het in sy laaste verslag aan die nasionale konferensie van die ANC baie klem gelê op radikale ekonomiese transformasie en die beeld geskep dat die ANC bedreig word deur "talle vyande van demokrasie".

Hy het op die 54ste nasionale konferensie van die party by Nasrec in Johannesburg veral die private sektor laat deurloop.

Hy het onder meer gesê korrupsie in die private sektor word nie op dieselfde manier veroordeel as korrupsie in die regering nie. Zuma het gewys op talle voorbeelde van samespanning in die private sektor wat gewissel het van die konstruksiebedryf tot vervoer en kos.

Hy het ook gesê die ANC moet hom staal teen aanslae van gierige sakelui.

Zuma, wie se tien jaar as ANC-president dié naweek tot 'n einde kom, het kaalvuis ingeklim onder die ANC se alliansievennote, Cosatu en die SAKP, wat hom die rug toegekeer het, ontnugterde ANC-lede, veterane, burgerlike organisasies, die private sektor, opposisiepartye, die media én die howe.

Hy het die SAKP selfs daarvan beskuldig dat hy saam met regse magte teen die ANC saamgespan het. Hy het ook verwys na die feit dat die SAKP en Cosatu hom nie as spreker op hul byeenkomste wou toelaat nie.

Zuma meen radikale ekonomiese transformasie is 'n saak van erns hoewel dit nie só gedoen moet word dat dit tot 'n ekonomiese en sosiale krisis lei nie. Die kwessie van grondhervorming verg ook dringende aandag.

Hy het ook groot klem gelê op eenheid in die ANC.

Hy dra geen wrok teen mense wat wou hê hy moet as president bedank nie. "Hulle het bloot hul menings gelug. Dit is politiek. Hulle het die reg om hul mening uit te spreek. Ek verkies dat mense hul sê sê eerder as dat hulle stilbly."

Hy was wel erg krities oor mense wat hulle na die howe wend om interne ANC-probleme te probeer oplos. Mense wat hulle na die howe wend, moet hulle nie langer as lede van die ANC beskou nie.

Sy toespraak het sowat twee ure lank geduur.

Die ondersteuning wat hy van die meer as 4 000 afgevaardigdes in die saal ontvang het, was nie naastenby op dieselfde vlak as in 2007 in Polokwane en in 2012 in Mangaung nie. Hy is wel met sy aankoms en aan die einde van sy toespraak staande toegejuig.

Zuma se toespraak het sewe ure laat begin. Die verrigtinge by die konferensie is vertraag omdat die ANC se nasionale uitvoerende komitee vroegoggend eers 'n spesiale vergadering gehou het.

SPELETJIES VANDAG

CTA