Hoewel die projeksies en voorspellings Sondagaand daarop gedui het dat adj.pres. Cyril Ramaphosa Maandag die ANC se president sal word, het Zweli Mkhize laaste momentum aan die kamp van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma gegee deur sy gewig agter haar in te gooi.
Baleka Mbete, voorsitter van die ANC en speaker van die Nasionale Vergadering, het weer Saterdagaand haar gewig agter Ramaphosa ingegooi.
Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool en Netwerk24 se politieke ontleder by die ANC se nasionale konferensie en leiersverkiesing by Nasrec in Johannesburg, het Sondagaand selfs voorspel dat Ramaphosa met tot 1 000 stemme kan wen.
"Volgens my berekeninge behoort Ramaphosa en die mense op sy kandidatelys sowat 2 626 van die stemme op hulle te verenig teenoor 1 650 stemme vir Dlamini-Zuma en haar kandidate," sê Venter.

Adriaan Basson, redakteur van News24, het vroeër die dag, voordat die benoemings afgehandel is, aan die hand van die aangesuiwerde getal afgevaardigdes voorspel die syfers projekteer moontlik 'n oorwinning van sowat 500 stemme vir Ramaphosa.
Prof. Pieter Labuschagne, politieke ontleder van Unisa, sê hy het aanvanklik verwag die stryd tussen Ramaphosa en Dlamini-Zuma sou baie taai wees, maar hy het gisteraand die idee gekry dat Ramaphosa makliker sal wen as wat verwag is.
Ramaphosa is Sondagaand deur 1469 takke benoem en Dlamini-Zuma deur 1094.
Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, en David Mabuza, premier van Mpumalanga, is benoem vir die adjunkpresidentskap.
Die benoemings vir die nasionale voorsitterskap het gegaan na Gwede Mantashe, huidige ANC-sekretaris-generaal, en Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur.
Senzo Mchunu, voormalige premier van KwaZulu-Natal, en Ace Magashule, premier van die Vrystaat, is albei vir die amp van sekretaris-generaal benoem.
Zingiswa Losi, tweede adjunkpresident van Cosatu, en Jessie Duarte is vir die pos van adjunk-sekretaris-generaal benoem.
Paul Mashatile, ANC-voorsitter in Gauteng en LUR vir menslike nedersettings, asook Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het benoemings aanvaar vir die pos van tesourier-generaal.
Ontleders was glad nie verras oor die benoemings nie en sê dit het die twee kampe in die ANC uitgelig.
"Ons praat hier nie net van twee kampe nie, ons praat eintlik van twee verskillende ideologieë," sê dr. Piet Croucamp, politieke ontleder van die Noordwes Universiteit.
Ek dink die sterkste mededinging sal om die pos van adjunkpresident wees.
Croucamp was net verbaas oor die onttrekking van Mkhize as kandidaat vir die pos van adjunkpresident.
"Ek dink die sterkste mededinging sal om die pos van adjunkpresident wees. Mense wat vir Ramaphosa stem, kan dalk almal vir Lindiwe Sisulu as adjunkpresident stem. Dit sal David Mabuza se kans in die wiele ry."
Mbete, nasionale voorsitter van die ANC, se onttrekking as presidentskandidaat Saterdagaand laat blyk nou volgens Venter betekenisvol te wees.
"Sy het die tekens gelees en besluit om terug te staan.
"Dit is nou ook duidelik dat Naledi Pandor, adjunk-president op Ramaphosa se aanvanklike spanlys, net 'n plekhouer was wat Sisulu kans gegee het om haar veldtog te voltooi," sê Venter.
Luide applous het losgebars toe aangekondig is dat Ramaphosa vir die presidentskap benoem is, maar die ondersteuners van Dlamini-Zuma was op hul voete en het spontaan begin sing toe haar naam as die tweede benoemde aangekondig is.
Venter het ook gesê dit is duidelik dat daar geen pogings was om versoening tussen die twee kampe teweeg te bring met die benoemings nie.
Die private verkiesingsagentskap, The EleXion Agency, moes gisteraand laat, nadat die benoemings afgehandel is, die stembriewe begin voorberei.
Daar is Maandagoggend vroeg, om halfeen die oggend, met die stemproses begin. Al die benoemdes se name verskyn op dieselfde stembrief.
Die uitslae word Maandagmiddag verwag.
"Dlamini-Zuma se ondersteuners was dominant. Hier gaan beslis lang trane gehuil word, maar hopelik vloei die bloed nie," het Jacob Rooi, senior politieke joernalis van Rapport, gesê.
- Sarel van der Walt, Gert van der Westhuizen, Philda Essop, Llewellyn Prince en Selloane Khalane.

















