KZN-uitspraak ‘sal nie stempatrone verander’

Dit is "onwaarskynlik" dat die hofuitspraak wat die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van KwaZulu-Natal Vrydag aan die vooraand van die ANC se belangrike 54ste nasionale konferensie effektief ontbind het, die stempatrone by die konferensie radikaal sal verander.

Kenners meen dit word eerder beskou as 'n "sielkundige oorwinning" vir adj.pres. Cyril Ramaphosa se kanse om die ANC se leierstryd teen sy grootste teenstander, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, ANC-LP, te wen.

Prof. Anthony Butler, politieke ontleder van die Universiteit Kaapstad, het gesê diegene wat weens dié uitspraak deur die hooggeregshof in Pietermaritzburg Vrydagoggend, nie meer toegelaat sal word om te stem nie, verteenwoordig 'n klein aantal stemme.

Die ANC in Gauteng het seker gemaak afgevaardigdes voel welkom as hul by OR Tambo Internasionale Lughawe aankom vir die party se 54ste nasionale konferensie, wat Saterdag amptelik in Nasrec begin. Foto: Le Roux Schoeman
Die ANC in Gauteng het seker gemaak afgevaardigdes voel welkom as hul by OR Tambo Internasionale Lughawe aankom vir die party se 54ste nasionale konferensie, wat Saterdag amptelik in Nasrec begin. Foto: Le Roux Schoeman

"Die tak-benoemings van die provinsie en werwing het reeds plaasgevind. So die effek van die provinsiale uitvoerende komitee wat ontbind is, sal onwaarskynlik beduidend wees in dié stadium.

"Die streek was verdeeld met die benoemingsfase en verskillende stemblokke van die streek is reeds taamlik verdeeld. Natuurlik is dit nie goed vir die Dlamini-Zuma kamp nie, want daar sal minder ruimte vir werwery en organisering wees, maar in dié stadium sal dit onwaarskynlik die stempatrone radikaal verskuif," het hy Vrydag by navraag by die Nasrec expo sentrum gesê.

Die PUK van KwaZulu-Natal het om verlof tot appèl aansoek gedoen nadat dieselfde hof vroeër die provinsiale verkiesingskonferensie wat in September 2015 plaasgevind het, onwettig verklaar het.

Dit is 'n baie belangrike sielkundige oorwining wat adj. pres. Cyril Ramaphosa behaal het

Die hof het beslis dat die PUK ontbind sal bly totdat die appèl geliaseer is.

Dit beteken dat die PUK wat Dlamini-Zuma steun, sy 27 stemme verloor.

Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, het kort ná die uitspraak op 'n nuuskonferensie by Nasrec gesê as die uitspraak die PUK ongeldig verklaar, sal die impak daarvan op die 27 PUK-lede wees wat die konferensie bywoon. "Die uitspraak praat nie daarvan dat 'n konferensie nietig verklaar is nie en dus is die produk van die daardie konferensie nie n tak nie, dit is die PUK."

Hy het bygevoeg dat sommige lede van die PUK ook takafgevaardigdes is en kan dus die konferensie as afgevaardigdes sal kan bywoon.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-universiteit, het gesê die uitspraak het eerder 'n "sielkundige effek" as 'n numeriese een aangesien 'n groot deel van die PUK-lede ook takafgevaardigdes is.

"Dit is 'n baie belangrike sielkundige oorwining wat adj. pres. Cyril Ramaphosa behaal het. Hier op nommer 99 hou elke klein dingetjie wat jy kan wen 'n groot voordeel in," het hy gesê.

Intussen sê die ANC in KZN in 'n verklaring hulle is "diep teleurgesteld" deur die uitspraak en sal dit 'n groot impak hê op die ANC se grondwet en die party in geheel.

Hulle sê ook hulle is bly die regter het hul verlof tot appèl toegestaan.

"Dit is ons mening dat indien die uitspraak nie teengestaan word nie, dit 'n chaotiese presedent sal skep wat die demokratiese prosesse sal lamlê," lui die verklaring.

Philda Essop en Selloane Khalane

SPELETJIES VANDAG

CTA