
Sewe ANC-lede van Mpumalanga wat 'n dringende aansoek in die hooggeregshof in Johannesburg sou bring oor beweerde bedrog tydens benoemingsvergaderings in aanloop tot die ANC-konferensie, en die ANC het mekaar Maandagmiddag "gevind," het adv. Dali Mpofu Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg gesê.
Dié aansoek oor beweerde bedrog in benoemingsvergaderings kom net dae voor die ANC-konferensie om die party se nuwe leiers te verkies Saterdag by Nasrec begin.
"Die partye het gistermiddag vergader en mekaar gevind," het Mpofu, namens Mathews Phosa, voormalige premier van Mpumalanga en 'n presidentskandidaat, gesê.
"Die partye het ingestem om die konflik deur interne strukture op te los. Die dringendheid van die aansoek word dus onttrek," het Mpofu gesê.
ANC-lede het vroeër voor die hooggeregshof in Pritchardstraat, Johannesburg, saamgedrom.
Die Mpumalanga-afgvaardigdes wou gehad het die hof moet beveel dat 'n oop stemming vir die leierskap gehou word én hulle vra dat die 223 takke in Mpumalanga (en 56 in KwaZulu-Natal) wat "eenheid" op hul benoemingsbriewe geskryf het, verbied word om vir 'n individu te stem.

Die galery was stampvol mense wat tot 11:30 gewag het vir die verrigtinge om te begin.
Caiphus Malomane van Hazyview en sy ses medeaansoekers sê die benoemings vir "eenheid" in plaas van 'n kandidaat is strydig met die ANC-grondwet, berig Rapport.
"Dit is deel van 'n doelbewuste veldtog om takke te keer om 'n persoon te benoem," sê die aansoekers.
Volgens hulle is lede van die benoemingsvergaderings uitgesluit, kworums is telkens nie gehaal nie en lede is om die bos gelei oor die doel van die vergaderings.
'n Benoemingsvergadering by die Magewu Primary School is byvoorbeeld voorgehou as 'n ANC-vroueligabyeenkoms.
Hou Netwerk24 dop vir meer inligting.





















