Ontleders sê oor invloed van hofuitsprake

'n Spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) sal Saterdagoggend vroeg Vrydag se hofuitsprake bespreek, enkele ure voordat die ANC se 54ste nasionale konferensie veronderstel is om amptelik te begin.

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, en NUK-lid, het Vrydagaand bevestig dat die NUK Saterdagoggend om 08:00 by Nasrec byeen sal kom. "Dit is om die uitslag van die hofuitsprake te oorweeg en seker te maak dat ons leiding aan die voltallige vergadering verskaf daaroor."

Die regspan van die ondersteuners van Cyril Ramaphosa in die hooggeregshof in Bloemfontein. Van links advv. Mpati Qofa, Kameel Magan en Dali Mpofu, SC. Foto: Alzane Narrain
Die regspan van die ondersteuners van Cyril Ramaphosa in die hooggeregshof in Bloemfontein. Van links advv. Mpati Qofa, Kameel Magan en Dali Mpofu, SC. Foto: Alzane Narrain

Geen uitstel

Op 'n vraag of die konferensie moontlik weens Vrydag se gebeure uitgestel kan word, het Kodwa heftig "nee" geantwoord.

"Die hofsake het niks met die konferensie te doen nie. Die konferensie bestaan uit 90% van die afgevaardigdes van takke. Provinsiale vergaderings wat gediskwalifiseer is, maak 10% van die afgevaardigdes uit - die provinsiale uitvoerende komitees (PUK) is deel van die 10%. Die takke wat gediskwalifiseer is - 14 in die Vrystaat en 38 in Bojanala in Noordwes - is waaroor die NUK moet praat, gegrond op regsadvies."

Bloedneus

Hoewel dr. Nkosazana Dlamini-Zuma-gesinde ANC-provinsies op die vooraand van die regerende party se allerbelangrike nasionale konferensie bloedneus in die verskillende howe geslaan is, glo haar sterkste ondersteuners steeds dat sy oor die naweek as die volgende ANC-president verkies sal word.

Dlamini-Zuma is adj.pres. Cyril Ramaphosa se sterkste mededinger in die opvolgstryd om die presidentskap van die ANC by die nasionale konferensie wat Saterdagoggend amptelik by die Nasrec Ekspo-sentrum in Johannesburg begin.

Die hofuitsprake kan 'n impak hê op die samestelling van stemgeregtigdes by die konferensie waar die leierskapstryd tussen Ramaphosa en Dlamini-Zuma so kop-aan-kop is dat 'n 100 stemme 'n verskil kan maak wie die volgende ANC-president word.

Kop-aan-kop

Gwede Mantashe het Vrydag tydens 'n nuuskonferensie gesê alles is slaggereed vir die nasionale konferensie en dat die verskeie hofsake nie sal verhoed dat die nasionale konferensie voortgaan nie.

Vrydag is gekenmerk deur hofuitsprake wat provinsiale ANC-verkiesings in KwaZulu-Natal en die Vrystaat nietig verklaar het.

Die ANC in Noordwes se grootste streek, Bojanala by Rustenburg, wat ook Marikana en Brits insluit, se streekskonferensie is ook onwettig verklaar.

Dit is 'n slag vir Dlamini-Zuma.

Meeste takke in KwaZulu-Natal, Vrystaat en Noordwes het met hul onlangse benoemingsprosesse almal Dlamini-Zuma gesteun as volgende ANC-president.

KwaZulu-Natal en Noordwes het reeds aangedui hulle gaan appelleer. Die hofuitsprake kan 'n invloed hê op die samestelling van stemgeregtigdes by die konferensie waar die leierskapstryd tussen Ramaphosa en Dlamini-Zuma so kop-aan-kop is dat 'n 100 stemme 'n verskil kan maak wie die volgende ANC-president word.

Die organisasie (ANC) is egter deur pyn gebou en moet die uitsprake as 'n les beskou.

—  Sihle Zikakala

'n ‘Les vir die ANC'

Sihle Zikakala, voorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal, wat die grootste afvaardiging na die kongres stuur en waar Dlamini-Zuma se grootste ondersteunersbasis is, sê hy is ondanks die hofuitsprake vol vertroue dat die ANC verenig en gelei deur Dlamini-Zuma uit die konferensie sal kom.

"Ons twyfel nie. Sy gaan wen."

Volgens Zikalala het KwaZulu-Natal teen Vrydag se hofuitspraak geappelleer, "maar sal dit nie die konferensie stop nie".

"Ons soek radikale ekonomiese transformasie en sal leiers verkies wat nie apologeties is oor die toepassing daarvan nie," het hy gesê.

Lindiwe Zulu, minister van kleinsakeontwikkeling en stoere ondersteuner van pres. Jacob Zuma en sy eksvrou, sê die hofuitsprake is 'n pynlike vuishou in die maag. "Die organisasie (ANC) is egter deur pyn gebou en moet die uitsprake as 'n les beskou."

Zulu is vasbeslote dat die nasionale konferensie volgens plan sal verloop.

"Die punt is dat dié 'n les is vir die organisasie - 'n bevrydingsorganisasie wat nou die regering uitmaak - dit verskil van wat ons in 1994 gehad het. Daar is demokrasie in Suid-Afrika - ons moet mekaar leer met elke tree wat ons gee dat ons ons bes moet probeer om by ons stelsels te hou en dinge te doen ingevolge ons eie grondwet. As ons iewers tekort skiet, sal ons dit regstel," het sy gesê.

Dit is vir my belangriker dat die momentum nou duidelik in die guns van Cyril Ramaphosa swaai.

—  Dr. Piet Croucamp

Sielkundige invloed

Politieke ontleders het Vrydag gemengde gevoelens oor die invloed van die hofuitsprake gehad.

Ralph Mathekga, 'n onafhanklike politieke ontleder, meen die uitsprake teen die onderskeie provinsies sal ANC-afgevaardigdes al hoe meer "uittartend" teenoor howe maak. "Veral nou waar daar 'n kultuur in die ANC is waar leiers en lede sterk uitgesproke is teen sulke instellings".

Hy sê ook die uitsprake gaan die deelname van die afgevaardigdes van twee of drie provinsies aan die nasionale konferensie, sowel die uitslag daarvan, in twyfel trek. "Die werklikheid is dat alle afgevaardigdes en faksies in die ANC konsensus moet bereik om hierdie ding uit te stel as hulle nie die nadelige gevolge wil dra nie. Die hofuitsprake het net bevestig dat die provinsies en takke nie vir die nasionale konferensie kon voorberei weens die onreëlmatighede in eie geledere nie. 'n Hoëvlak taakspan moet eerder saamgestel word om behoorlik voor te berei vir 'n nasionale konferensie wat later gehou word," aldus Mathekga.

Die sielkundige invloed van Vrydag se hofuitsprake op die ANC se leierskapskonferensie is baie belangriker as enige numeriese invloed, sê Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die sakeskool van die Noordwes-Universiteit.

Volgens Venter sal die aantal afgevaardigdes wat vir Dlamini-Zuma kan stem beslis minder wees ná die hofuitsprake, hoewel dit nie baie beduidend sal wees nie.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, sê hy glo daar sal ná die hofuitsprake slegs tussen 27 en 50 stemme minder vir Dlamini-Zuma wees.

"Dit is vir my belangriker dat die momentum nou duidelik in die guns van Cyril Ramaphosa swaai. Mense in die ANC kyk na hul eie sakke en posisies en veral senior lede sal hulle nou eerder by Ramaphosa skaar omdat dit lyk of hul geld op die verkeerde perd was," het Croucamp gesê. - Llewellyn Prince, Philda Essop, Selloane Khalane en Gert van der Westhuizen

SPELETJIES VANDAG

CTA