Die ANC het gewys dat dit die enigste party in Suid-Afrika is wat deur sy beleid van radikale sosio-ekonomiese transformasie 'n verskil aan landsburgers se lewe kan maak.
Die regerende party het egter ook die hulp van die private sektor en georganiseerde arbeid nodig om sy grootste uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid uit te wis.
Jeff Radebe, die ANC se beleidshoof en minister in die presidensie, het Woensdagoggend só gesê toe hy 'n sakeontbyt van die ANC se progressiewe sakeforum by die party se nasionale konferensie by die Nasrec-eksposentrum Johannesburg toegespreek het.
Volgens Radebe vereis 'n bekwame en ontwikkelingstaat soos Suid-Afrika 'n private sektor wat kan belê in produksiekapasiteit om werk vir alle Suid-Afrikaners te help skep.
"Die private sektor verskaf werk aan sowat driekwart van die land se werksmag en is verantwoordelik vir twee derdes van beleggings. Daarom moet ons aanhou om die vennootskappe en samewerking met die private sektor te bou as ons aan die mandaat van die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) gestand wil doen."

Volgens Radebe is dit belangrik dat Suid-Afrikaners 'n inkomste verdien, hetsy deur te werk of deur middel van maatskaplike toelaes, om sodoende hul lewenstandaard te verhoog. Hulle benodig egter meer as net 'n inkomste.
Radebe het gesê dit is daarom belangrik dat die regering die land se vaardigheidsbasis vergroot deur meer mense toegang tot naskoolse onderrig en opleiding te gee.
Hy meen nog 'n manier om hierdie doelstellings te bereik, is deur grondhervorming, behoorlike voedingskemas en vervoer, sodat mense by die werk kan kom, en deur veiliger en skoner gemeenskappe te skep. "Elk van hierdie vereis die samewerking van alle rolspelers."
Hy het gaste by die sakeontbyt ook daaraan herinner dat die NOP Suid-Afrika se padkaart vir radikale sosio-ekonomiese transformasie is.
Die belangrikste ding is net om die doelwitte van die NOP te implementeer
— Jeff Radebe
"Ons moet daarom ons pogings verdubbel om die uitdagings te pak, want dit is die enigste manier hoe ons kan verbeter. Ons moet daarom ook ons mislukkings erken."
Hy het ná sy afloop van sy toespraak op 'n mediakonferensie gesê die NOP is kerngesond.
"Die belangrikste ding is net om die doelwitte van die NOP te implementeer."
Radebe het sy kommer uitgespreek oor die ekonomie wat die afgelope jaar baie stadige groei getoon het.
Volgens hom is dit ook belangrik om te onthou dat die nasionale konferensie nie net oor die verkiesing van nuwe ANC-leiers gaan nie, maar ook om belangrike beleidsbesluite te neem. Kommissies wat beleid bespreek het, het juis Dinsdag hul werk voltooi.
Radebe het gesê dit is ook belangrik om te let op wat adj.pres. Cyril Ramaphosa, nuutverkose ANC-president, in sy slottoespraak Woensdag by die konferensie sal sê, omdat dit 'n aanduiding sal wees van die beleidsrigting wat die land vir die volgende vyf jaar kan inslaan.











