Pres. Jacob Zuma is enkele dae voor die afskop van die ANC se uiters belangrike nasionale konferensie in Johannesburg ná twee verdoemende hofuitsprake kort na mekaar 'n "verswakte president".
Woensdag het die hooggeregshof in Pretoria Zuma se aansoek dat adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer (OB), se staatskapingsverslag hersien moet word, met koste van die hand gewys. Zuma moet self die regskoste daarvoor betaal.
Dít nadat dieselfde hof Vrydag vir Zuma nóg 'n slag toegedien het deur te beveel dat adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, sy pos moet ontruim en dat adj.pres. Cyril Ramaphosa nou Abrahams se opvolger moet aanstel. Zuma wil daarteen appelleer.

Dr. Bongani Ngqulunga, Zuma se woordvoerder, was nie Woensdag beskikbaar vir kommentaar oor of Zuma teen Woensdag se uitspraak sal appelleer nie.
Phephelaphi Dube, direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, sê solank Zuma nie appelleer nie, beteken dit dat die OB se aanbevelings in haar verslag staan.
Dit beteken dat Zuma nou, soos die hof beveel het, binne 30 dae die langverwagte regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping moet aanstel.
Madonsela het aanbeveel hoofregter Mogoeng Mogoeng, en nie Zuma nie, moet 'n regter aanstel om dié kommissie te lei, omdat Zuma self by beweringe van staatskaping betrek word.
Volgens Dube is die kanse egter "baie skraal" dat enige appèlaansoek van Zuma suksesvol sal wees omdat 'n volbank regters Woensdag uitspraak gelewer het.
"Hy kan egter 'n petisie aan die appèlhof rig, wat die hooggeregshof se uitspraak sal opskort as dit suksesvol is."
Dr. Llewelyn Curlewis, 'n strafregkenner, sê die "baie insiggewende uitspraak" het bewys "wat almal geweet het - dat Zuma (se saak) geen meriete gehad het nie".
Curlewis sê die feit dat die volbank regters 'n persoonlike kostebevel teen Zuma gemaak het, toon hul misnoeë in Zuma se saak.
"Dit is nie iets wat aldag gebeur nie en dui daarop dat die hof nie beïndruk was met die manier hoe Zuma homself in die verrigtinge gedra het nie."
Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac), sê die uitspraak is ongelukkig met 'n jaar vertraag, "maar Casac hoop ons kan nou vinnig beweeg om 'n kommissie aan te stel om die baie, baie ernstige beweringe van staatskaping te ondersoek".
Politieke ontleders was dit ook eens dat Woensdag se hofuitspraak 'n slag vir Zuma en sy faksie is.
Dr. Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê Zuma is ná die hofuitsprake 'n "verswakte president".
"Hierdie is die ideale scenario vir (Zuma se) herroeping. Dit is die tweede keer dat die president se magte ingeperk word, oënskynlik weens sy botsing van belange.
"Ek dink die uitspraak sal nadelig wees vir die Zuma-groepering. Dit gaan beslis 'n impak hê op die stemmery by die (nasionale konferensie)."
Ek dink die uitspraak sal nadelig wees vir die Zuma-groepering. Dit gaan beslis 'n impak hê op die stemmery by die (nasionale konferensie).
— Dr. Theo Venter
Prof. Pieter Labuschagne, politieke wetenskaplike aan Unisa, sê die groot ironie van die koste-uitsprake is dat Zuma die howe in die algemeen as "inmengers" beskou, "maar dan gebruik hy terselfdertyd die howe om geregtigheid te vertraag en te frustreer".
Dr. Ina Gouws van die program regeerkunde en politieke transformasie by die Universiteit van die Vrystaat, sê die hof "het gesê genoeg is genoeg en dat Zuma nie langer belastingbetalers se geld kan gebruik om homself te beskerm nie.
"Hy gaan beslis appelleer. Sy groot plan bly egter om tyd te koop om tot 2019 aan te bly sodat hy sy beloftes aan sy netwerke (van patronaatskap) kan vervul.
Gouws meen egter die Zuma-faksie gaan alles moontlik doen om by die nasionale konferensie te wen "omdat hul politieke loopbane en netwerke op die spel is".
- Llewellyn Prince, Philda Essop, Jeanelle Greyling en Sarel van der Walt





















