Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê die doelwit om verligting van die Covid-19-pandemie te bereik is een wat net behaal gaan word deur samewerking en optrede deur alle lede van die samelewing wêreldwyd.
'n Saamgestelde dokument is Woensdag deur die WGO uitgereik met die titel Strategiese paraatheid en gereedheid en reaksieplan om die wêreldwye Covid-19-pandemie in 2022 te beëindig.

In die dokument word daar deur navorsing voorspel dat die pandemie vanjaar op drie verskillende maniere kan uitspeel.
Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur van die WGO, sê hierin dat navorsing en huidige bewyse daarop dui dat die virus heel waarskynlik steeds sal aanhou ontwikkel, terwyl immuniteit sal toeneem as gevolg van inenting en omdat mense die siekte reeds opgedoen het. Dit is die een scenario wat voorspel word.
"In die beste scenario sal ons minder ernstige variante sien ontwikkel," sê Ghebreyesus.
"Met hierdie variante sal dit nie nodig wees vir nuwe inentingsformules om ontwikkel te word nie en mense sal nie skraagdosisse nodig hê nie."
Hy sê egter in die ergste moontlike scenario sal die virus nog erger variante vorm wat meer en meer aansteeklik word.
"In hierdie voorspelling neem mense se beskerming teen die virussiekte weens inenting of vorige infeksie geweldig af en sal amper niks help nie."
In dié scenario sê die WGO sal daar ontsaglike baie aan die entstowwe aangepas moet word wat tans bestaan en beskikbaar is.
Lees die hele dokument hier.




















