Covid-19

Infeksies wek nie erg kommer

Ofskoon die regering Vrydag sy besorgdheid uitgespreek het oor die beduidende toename in Suid-Afrika se SARS-CoV-2-infeksiekoers vandeesweek, stem dit nie die land se medici tot erge­ kommer nie.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het Vrydag aan parlementslede gesê daar is "kommerwekkende tekens in die toename in die vlak van SARS-CoV-2-infeksies".

Die infeksiesyfer het van 2 846 Woensdag tot 4 406 Donderdag gestyg.

Die meeste van die infeksies (49%) is in Gauteng aangemeld, gevolg deur KwaZulu-Natal (22%) en die Wes-Kaap (15%).

66 mense is met Covid-19 in die hospitaal opgeneem.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê dit beteken die positiwiteitskoers het van 13,4% tot 15,8% gestyg.

"Ons hoop dat dit nie veel hoër sal styg nie," het Phaahla Vrydag gesê.

"Ons monitor dit en sal in staat wees om verslag te doen sodra ons die tendens bepaal het. Ons moet dit effens meer tyd gee om te sien hoe dit verloop. Ons hoop dat selfs as daar 'n styging is soos die winter nader kom, dit nie so ontwrigtend sal wees dat dit ons aandag van ons ander gesondheidsprogramme aflei nie."

Epidemioloë sê die toename is nog nie naastenby soveel as met vorige vlae nie en is bowen­al te wagte in die kouer maande.

Die toename is volgens hulle waarskynlik te wyte aan Omikron-subvariante. Omikron is steeds die oorheersende variant van SARS-CoV-2 in die land.

Dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid wat saam met Phaahla aan die portefeuljekomitee oor gesondheid verslag gedoen het oor die departement se jaarlikse prestasieplan en begroting vir 2022-'23, het benadruk die entstowwe van Pfizer en Johnson & Johnson (J&J) wat in Suid-Afrika gebruik word, is "uiters doeltreffend" teen die nuwe subvariante.

"Die belangrikste ding waarvan ons en die publiek moet kennis neem, is dat aanvullende dosisse van sowel die Pfizer- as die J&J-entstof sellulêre immuniteit skep wat langer hou as die teenliggaampiereaksie wat van net blootstelling aan die virus gekry word.

"As jy jouself dus wil beskerm, is die beste manier om dit te doen deur verskeie dosisse entstowwe te kry, soos ons in ons inentingsprogram voorsien."

Dr. Jo Barnes, epidemioloog aan die Universiteit Stellenbosch, sê die jongste styging is verwag en nie rede tot paniek nie.

"Dit word nou winter en dit word koud in die meeste dele van die land. Mense is nou langer binnenshuis en is op korter afstand in kontak met mekaar," sê Barnes.

"Omikron-gevalle is steeds met ons, soos wat 'n mens uit die getalle kan sien."

Daar is 'n verwagting dat daar 'n nuwe vlaag van infeksies sal wees, dit is net wetenskaplik logies, sê Barnes. "Maar presies wanneer, sal ons nie kan sê nie."

Volgens Barnes sal 'n nuwe vlaag onder meer afhang of daar 'n ander variant te voorskyn kom waarteen mense nie 'n baie goeie weerstand het nie.

Crisp erken die regering "gaan sukkel" om sy teikens met Covid-19-inentings te bereik omdat inentings afgeneem het. "Ons dink mense het voortydig vertroue oor Covid-19 gekry en is nie meer so geesdriftig om vir inentings te kom nie. Covid-19 is wel nog nie weg nie."

Hy het veral landsburgers tussen die ouderdom van 12 en 17 en tussen 18 en 34 aangeraai om hulle te laat inent.

Barnes het mense ook daaraan herinner die Covid-19-pandemie het nie verdwyn nie.

Sy sê Suid-Afrika het 'n relatief teleurstellende lae persentasie van mense wat ten volle ingeënt is en aanvullende inentings gekry het.

"Die meeste mense se weerstand berus dus op die een of ander variant wat hulle opgedoen het. Dit kan wees dat van die weerstand wat hulle só opgedoen het, al begin afneem," sê Barnes en voeg by daarom is daar 'n hele klomp mense wat moontlik vatbaar is vir 'n nuwe variant van die virus.

Sy sê daar sal eers verskerpte voorsorgmaatreëls getref word wanneer die positiwiteitskoers (die getal mense wat positief toets in verhouding tot die getal toetse wat per dag of per week gedoen is) meer as 20% is, maar 'n mens beoordeel dit aan die hand van verskeie omstandighede, sê Barnes. Suid-Afrikaners het intussen nog tot môre kans om kommentaar te lewer op die bykomende regulasies vir aanmeldbare siektes soos Covid-19 wat die nasionale regering deel wil maak van die Nasionale Gesondheidswet.

Llewellyn Prince en Marelize Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM