Shanghai is Vrydag tot stilstand gedwing nadat die Chinese regering 'n inperking vir die meeste van die stad se 26 miljoen inwoners afgekondig het om die verspreiding van die Omikron-variant van die koronavirus te probeer stuit.
Dit ondanks syfers wat toon dat plaaslike infeksies 'n tweede dag agtereenvolgens gedaal het.
Die regering het Donderdag laat die inperking vir die stad se oostelike distrikte verleng terwyl die westelike distrikte ook nou ingeperk is.
Ingevolge nuwe regulasies in China se digs bevolkte stad moet die meeste inwoners tuisbly totdat die uitbreking onder beheer is - hulle mag nie eens hul vullis uitneem of met hul honde gaan stap nie. Hulle mag net hul huis verlaat vir 'n koronavirus-toets wat deur gesondheidswerkers by die naaste toetsstasie gedoen sal word.
Openbare vervoer in die grootste deel van die stad is opgeskort en nienoodsaaklike ondernemings soos restaurante en winkelsentrums moes sluit.
Die inperking, wat daarop gemik is om die uitbreking sowat 'n maand gelede van die hoogs aansteeklike Omikron-variant te beperk, het Maandag begin en sou tien dae duur. Verskillende dele van die stad sou aanvanklik vir verskillende tydperke ingeperk word, maar almal is nou tot verdere kennisgewing ingeperk. Die stad het ook laat blyk dat die oostelike distrikte in fases na normaal sal terugkeer.
Die owerhede het Vrydag gesê nuwe infeksies het 'n tweede dag agtereenvolgens afgeneem. Donderdag is 4 144 nuwe asimptomatiese infeksies aangemeld en 358 simptomatiese infeksies teenoor 5 298 en 355 Woensdag.
Inwoners is egter skepties oor die syfers. Daar word daagliks 'n adreslys gepubliseer van waar inwoners positief getoets is en mense sê dat adresse in baie gevalle eers dae nadat hulle of hul bure positief getoets is op dié lys verskyn en soms glad nie.
Die owerhede het nie op 'n navraag hieroor gereageer nie.
Die nuwe Shanghai- internasionale eksposentrum, wat gewoonlik vir motorskoue gasheer is, is in 'n kwarantynsentrum omskep. Daar is 15 000 beddens vir pasiënte ingerig.

















