'n Gewilde bestemming vir voëlkykers in die Wildernis-gebied van die Tuinroete Nasionale Park sal tot die einde van Maart vir besoekers gesluit wees.
Phokela Lebea, Sanparke-woordvoerder, sê die tydelike sluiting van die Kuifkopvisvanger-voëlskuiling word genoodsaak vanweë instandhoudingswerk. "Die werk het die afgelope Maandag begin en sal tot die einde van die maand duur."
Volgens Sanparke is die Kuifkopvisvanger-voëlskuiling by Langvlei een van drie skuilings in die gebied. Daar is ook die Rondevlei-skuiling en die Koningriethaan-skuiling langs die Touwrivier.
Die Rondevlei-, Langvlei-, Eilandvlei- en Serpentyn-vleiland vorm deel van 'n internasionaal geproklameerde Ramsar-terrein. Talle kuifkopdobbertjies kan by Langvlei en Rondevlei gesien word. Die gebied is ook bekend vir bleshoenders, geelbekeende en rietduikers.
'n Ramsar-terrein is 'n vleiland-terrein wat van internasionale belang is kragtens die Ramsar-konvensie, 'n internasionale omgewingsooreenkoms wat in Februarie 1971 in Ramsar, Iran, onder die vaandel van die Wêrelderfenisorganisasie, Unesco, onderteken is.
Ingevolge die ooreenkoms word vleilande van internasionale belang geïdentifiseer, veral dié wat deur watervoëls bewoon word.
Die Tuinroete-park bestaan uit die Wildernis-, Knysna- en Tsitsikamma-gebied. Volgens Sanparke is meer as 280 voëlspesies in en om Knysna gelys en is watervoëls volop op plekke soos Thesen-eiland en die Knysna-strandmeer.
By die Stormsrivier-ruskamp in die Tsitsikamma-gebied kom trekduikers en swarttobies onder meer prominent langs die kuslyn voor, terwyl Nature's Valley buite Plettenbergbaai en die Tsitsikamma-bos ook gewilde bestemmings vir voëlkykers is.
- jkruger@24.com

















