Suid-Afrika is reeds "nie-amptelik" in 'n nasionale vyfde vlaag van die Covid-19-pandemie, hoewel minder mense in dié vlaag waarskynlik deur SARS-CoV-2 geïnfekteer sal word en sal sterf, meen kenners.
Dinsdag was daar vir die eerste keer sedert 5 Januarie meer as 10 000 mense landwyd wat binne 24 uur geïnfekteer en tien mense wat in die vorige twee dae dood is, volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).
Prof. Bruce Mellado, hoofmodelleerder van die Gautengse bevelsraad, sê die modellering voorspel dié provinsie, waar gevalle eerste skerp begin toeneem het, het reeds sy piek bereik of is tans besig om sy piek te bereik.
"Dit moet egter nog bevestig word met data van vandag en môre," het hy aan Netwerk24 gesê.
KwaZulu-Natal is die ander provinsie wat die toename in gevalle dryf, terwyl die virus ook nou op 'n groter skaal in die Wes-Kaap versprei, sê dr. Ridhwaan Suliman, senior navorser verbonde aan die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad, wat sedert 2020 betroubare Covid-19-statistieke op sosiale media deel.
Intussen is pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet erg bekommerd oor die skerp styging in koronavirusgevalle in sekere dele van die land, het Mondli Gungubele, minister in die presidensie, Donderdag op 'n mediakonferensie oor die onlangse kabinetsvergadering gesê.
Hulle versoek Suid-Afrikaners daarom om al die moontlike te doen om hulself te beskerm deur onder meer aan te hou om inenting as hul eerste verdedigingslinie te kies.
"Onlangse statistieke wys dat ons 'n mylpaal bereik het van meer as 50% van volwassenes wat in vyf provinsies ingeënt is. Die kabinet versoek diegene wat nog nie ingeënt is nie om dit te gaan doen om hulself en hul geliefdes te beskerm," sê Gungubele.
Inperkings sal slegs nadelig en van beperkte waarde met die huidige oplewing wees.
— Prof. Shabir Madhi
Dr. Angelique Coetzee, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en lid van Solidariteit se doktersgilde, sê Suid-Afrika is reeds nie-amptelik in 'n nasionale vyfde vlaag van koronavirus-infeksies.
Sy verwag dat dié vlaag - wat aangedryf word deur subvariante van Omikron - kleiner sal wees ten opsigte van infeksies, hospitalisasies en sterftes en dat nuwe gevalle op sowat 15 000 per dag 'n piek sal bereik.
"Mense wat ingeënt is, kan steeds matig siek word, maar die meeste van hulle sal as gevolg van die inenting byvoorbeeld nie sulke erge hoofpyne kry nie."
Prof. Adrian Puren, hoof van Nios, stem saam daar is tans 'n besliste ontkoppeling tussen nuwe gevalle en hospitalisasies, wat beteken dat hospitalisasies laer is en nie parallel met nuwe infeksies styg nie.
"Daar is nou omvangryke immuniteit teen erge Covid-19 danksy vorige infeksie en entstowwe," sê prof. Shabir Madhi, hoof van die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Witwatersrand.
"Inperkings sal slegs nadelig en van beperkte waarde met die huidige oplewing wees."
Wat volgens Madhi wel belangrik is, is dat mense van 50 jaar en ouer en diegene met onderliggende siektetoestande minstens drie dosisse van 'n entstof ontvang, selfs al is hulle voorheen met die virus besmet.
Hoewel die prentjie tans taamlik positief lyk, is een van die dinge wat steeds sake kan versleg die verskyning van 'n heel nuwe variant, sê dr. Jo Barnes, epidemioloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.
Volgens Gungubele moet mense ook aanhou om te voldoen aan alle Covid-19-maatreëls, wat insluit die dra van 'n masker wat beide die neus en mond bedek, die ontsmetting van hande en die handhawing van 'n gesonde afstand van minstens 1 m van ander mense.




















