Navorsers aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se bevindinge is gepubliseer as deel van 'n internasionale navorsingstuk oor SARS-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak, se evolusie in Afrika.
Die navorsing is verlede maand aanlyn in die joernaal Science gepubliseer.

Die UV sê in 'n verklaring meer as 300 wetenskaplikes en openbaregesondheidswerkers in Afrika en elders wat navorsing oor die virus se evolusie gedoen het, het aan die omvangryke publikasie deelgeneem.
Dit was die eerste medewerkende navorsing in Afrika oor die pandemie, sê die UV.
Die medewerking het plaasgevind onder die leiding van twee Suid-Afrikaanse laboratoriums - Krisp (KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform) van die Universiteit van KwaZulu-Natal en Ceri (Centre for Epidemic Response and Innovation) aan die Universiteit Stellenbosch. Dié twee laboratoriums het in 'n verklaring gesê dit was die grootste konsortium van Afrika-wetenskaplikes en -openbaregesondheidsinstellings wat saamgewerk het om 'n data-gedrewe reaksie op Covid-19 op die vasteland moontlik te maak.
Prof. Martin Nyaga, medeprofessor in die UV se eenheid vir volgende-generasie-volgordebepaling, sê die eenheid het genoom-volgordebepaling gedoen op monsters van SARS-CoV-2-variante wat in Suid-Afrika en spesifiek in die Vrystaat in omloop was. "Dit is 'n ongelooflike gevoel om deel te wees van die oplossing . . . deur data te verskaf wat variante intyds volg en data te voorsien vir voorkomende oplossings soos entstofontwikkeling teen 'n virus wat 'n internasionale bedreiging was," sê Nyaga.
Ander navorsers van die UV wat aan die studie meegewerk het, sluit in prof. Dominique Goedhals, Phillip Armand Bester, dr. Peter Mwangi, Milton Mogotsi, en Emmanuel Ogunbayo.
Dié universiteit se navorsing oor Vrystaatse variante, waarvan inligting by die betrokke navorsingsverslag ingesluit is, is ook onlangs in die joernaal Frontiers in Virology gepubliseer.











