Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, vergader vandeesweek met die kabinet om verpligte maskers en sekere regulasies wat met byeenkomste verband hou af te skaf.
Volgens 'n memorandum gedateer 20 Junie 2022 skryf die minister dat hulle reeds vroeg in Mei vergader het om te oorweeg of sekere regulasies nie meer nodig sal wees om die verspreiding van die koronavirus te voorkom nie.
Volgens Phaahla sluit die regulasies die volgende in:
- Die verpligte dra van maskers vir byeenkomste wat binnenshuis gehou word;
- regulasie 16 (b) wat verband hou met byeenkomste; en
- regulasie 16 (c) wat verband hou met die kriteria om Suid-Afrika vanaf die buiteland in te kom.
Volgens Phaala is die vyfde vlaag van koronavirus-infeksies in die land nou iets van die verlede.
Daar is onder meer 'n afname in die getal aangemelde infeksies, hospitalisasies en sterftes en die regulasies kan dus nou aangepas word om die verpligte dra van maskers af te skaf.
Beperkinge op byeenkomste kan ook eersdaags iets van die verlede wees en kriteria wat in plek was om Suid-Afrika binne te kom kan afgelas word. Die minister van gesondheid sal binne die volgende 48 tot 72 uur die aanbevelings aan die kabinet vir bespreking voorlê.






















