'n Pasiënt wat ná die gebruik van "RXME-inspuitings", 'n sogenaamde wondermiddel teen vetsug, erge newe-effekte ervaar het, het 'n amptelike klag ingedien teen die dokter wat die medikasie verskaf het.
Die pasiënt, wat anoniem wil bly uit vrees vir vergelding, beskuldig dr. Tommie Smook van Bloemfontein in 'n klag by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) en die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) van onetiese gedrag en die onwettige bemarking en verspreiding van medikasie.

Die klaer beweer sy het die sogenaamde RXME-inspuitings, wat in 'n saamgestelde apteek vervaardig word, direk van 'n smaakmaker op sosiale media en verkoopsverteenwoordiger van Smook gekry.
In die amptelike klag, wat Rapport onder oë gehad het, beweer sy die verkoopsverteenwoordiger het 'n insuliennaald gebruik om haar in te spuit met 'n mengsel van semaglutied en tirzepatied - die aktiewe bestanddeel van onderskeidelik die voorskrifmedikasie Ozempic en Mounjaro.
"Toe ek die medikasie begin gebruik, het ek verskeie slegte newe-effekte ervaar, soos hardlywigheid, naarheid, duiseligheid, wasige sig en maagswelling. Ek ervaar steeds newe-effekte," lui die klag.
Sy beweer sy het Smook nooit gespreek of 'n voorskrif van hom gekry nie.
Smook sê egter nie hy of sy praktyk het sover enige kennisgewing van Sahpra of die HPCSA oor die klagte ontvang het nie.
Hy ontken ook ten sterkste dat hy of sy praktyk enige medisyne wat semaglutied (GLP-1) en tirzepatied (GIP) bevat, sonder voorskrif resepteer.
Die "RXME-inspuiting" word op sosiale media deur 'n rits bekendes, soos die sanger Gerhard Steyn en sy vrou, Zelri, die sangeres Irene-Louise van Wyk, en die Real Housewives-paartjie Kiki en Malcolm Wentzel aangeprys.
Hulle almal sê hulle doen dit bloot uit die goedheid van hul hart om die publiek van die "wondermiddel" bewus te maak nadat hulle self ongelooflike gesondheidsresultate en gewigsverlies daarmee behaal het.

Sowel Ozempic as Mounjaro is deur Sahpra goedgekeur vir die behandeling van diabetes. Dit word egter deesdae ook deur dokters voorgeskryf vir gewigsverlies.
Sahpra het by navraag bevestig dat daar geen goedgekeurde grondstowwe vir die samestelling van hierdie middels in Suid-Afrika is nie, behalwe dié in geregistreerde medisyne soos Ozempic en Mounjaro.
Dr. Angelique Coetzee, lid van die adviesraad van Solidariteit se doktersnetwerk, sê Ozempic en Mounjaro mag nooit saam gebruik word nie.
"Jy kan nie net doen wat jy wil en goed aanmaak soos wat jy goeddink nie. Daar is uitdruklike waarskuwings dat tirzepatied en semaglutied nie met mekaar of ander soortgelyke reseptor-agoniste vermeng mag word nie."
'n Reseptor-agonis is 'n stof wat aan 'n spesifieke reseptor in die liggaam bind om 'n biologiese reaksie te veroorsaak.
Coetzee sê mediese praktisyns wat sulke middels vir hul pasiënte voorskryf, speel met vuur.

"As 'n verantwoordelike dokter sal ek net handelsmerkmedisyne voorskryf soos Ozempic of Mounjaro, wat semaglutied of tirzepatied in hul goedgekeurde vorm bevat. As jy iets anders voorskryf, is jy in groot moeilikheid as die pasiënt iets oorkom."
Madimetja Mashishi, Sahpra-woordvoerder, het by navraag bevestig hulle het 'n klagte oor die nadelige uitwerking van saamgestelde semaglutied ontvang.
"Weens veiligheids- en wetlike redes deel Sahpra nie inligting oor klagte en wanpraktyke wat ondersoek word nie," sê hy.
Sahpra werk saam met wetstoepassers om onwettige aanlyn verkope van geskeduleerde vetsugmedikasie stop te sit.
Ozempic en Mounjaro is wel in Suid-Afrika geregistreer, maar die bestanddele semaglutied en tirzepatied is tans nie vir samestelling geregistreer nie, sê hy.
"Ons moedig pasiënte aan om nie sulke produkte te gebruik nie."
Volgens Mashishi mag medikasie van skedule 2 of hoër op geen manier bemark word nie, hetsy teen betaling of nie.
Ook persoonlike getuienisse oor skedule 4-medisyne word as promosie beskou en is onwettig, sê hy.

Bekendes, smaakmakers en enige ander lid van die publiek wat skedule 4-medisyne bemark, sal strafregtelik vervolg word en skuldiges kan tot 10 jaar tronkstraf kry, sê Mashishi.
Volgens hom is dit onwettig om enige medisyne hoër as skedule 2 sonder 'n voorskrif te verskaf.
Dit is ook onwettig om behandeling te begin sonder 'n diagnose of sonder dat die geskiktheid van die behandeling geëvalueer is in die lig van enige onderliggende mediese toestande wat die pasiënt kan hê.
Dit is verder onprofessionele gedrag om geskeduleerde medisyne sonder konsultasie te verskaf.
Sahpra win tans kommentaar in met die oog daarop om die samestelling van tirzepatied en semaglutied te verbied.
Ander lande het reeds streng stappe gedoen:
• Australië het saamgestelde weergawes in Oktober verbied.
• Amerika se FDA het in Maart 'n onmiddellike verbod op tirzepatied-samestellings geplaas en wil teen Mei semaglutied-samestellings verbied.





















