Gesondheid

Maermaak-middel Ozempic kan jou blind maak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ozempic, die "wondermiddel" wat vir die bestuur van diabetes en gewigsverlies voorgeskryf word, kan gebruikers se oë beskadig.

Twee groot studies wat aan die Suid-Deense Universiteit gedoen is, het gewys dat Ozempic die risiko meer as verdubbel vir pasiënte om 'n skaars dog ernstige toestand van die sigsenuwee op te doen wat tot blindheid kan lei.

Dié toestand word veroorsaak deur 'n skielike verlies aan bloed na die optiese senuwee en kan tot permanente blindheid lei, skryf dr. Paul Ian Cross in MedicalNewsToday.

In die eerste Deense studie is 424 152 pasiënte met diabetes oor 'n tydperk van vyf jaar gemonitor. Die voorkoms van non-arteritiese anterior ischemiese optiese neuropatie (Naion) het verhoog van nege tot 23 per 100 000 onder pasiënte wat Ozempic gebruik het.

"Dit is belangrik om kennis te neem van die risiko omdat Naion onomkeerbaar is," lui die studie wat in die jongste uitgawe van dieInternational Journal of Retina and Vitreousgepubliseer is.

In die tweede studie onder sowat 62 000 Dene en Noorweërs het die voorkoms van Naion gestyg tot 21 per 100 000.

Cross beklemtoon dat die navorsers nié voorstel diabete moet hul behandeling met Ozempic staak nie, maar dat die voorkoms van Naion gemonitor moet word.

Pasiënte met diabetes wat nie behandel word nie, kan ook oogkomplikasies ontwikkel, maar dit is gewoonlik minder ernstig as Naion.

Ozempic is al sedert 2017 in Suid-Afrika beskikbaar. Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het dit amptelik goedgekeur vir die bestuur van diabetes, maar dit word hier soos elders in die wêreld ook soms vir gewigsverlies voorgeskryf.

Dié middel werk deur 'n natuurlike hormoon na te boots wat die brein laat weet dat die persoon versadig is. Dit vertraag ook die verteringsproses, lui 'n verslag van die Universiteit van Kalifornië.

Die middel is ontwikkel vir langdurige gebruik en gewigsverlies is onder die newe-effekte wat diabete op die medikasie ervaar het.

Dr. Marius Wasserfall, internis van Mediclinic, het einde verlede jaar in 'n verklaring ook gewaarsku dat ernstige, hoewel skaars newe-effekte van Ozempic ook inflammasie van die pankreas en probleme met die galblaas insluit.

Volgens Wasserfall kan mense ook wanneer hulle die gebruik van die medikasie staak, die meeste van die gewig aansit wat hulle daarmee verloor het.

- liezel.delange@rapport.co.za

mailto: liezel.delange@rapport.co.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM