MIV-program floreer ondanks opgeskorte Trump-geld – Mashatile

(Foto: GCIS)

Die regering werk ten spyte van pres. Donald Trump van Amerika se administrasie se vroeëre besnoeiing van finansiering aan Suid-Afrika ywerig om sy prestasies in die stryd teen MIV/vigs te bewaar, sê adj.pres. Paul Mashatile.

“Ons fokus nou op die aanvulling van ons binnelandse befondsing, het nasionale veldtogte begin, en ondersoek vennootskappe met die Brics-nasies en die private sektor in Suid-Afrika om die geldtekorte aan te vul.”

Mashatile het Maandagmiddag in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad (Sanac) gepraat toe hy die 12de Suid-Afrikaanse Vigskonferensie by Emperors Palace in Kempton Park, Gauteng, geopen het. Die konferensie duur tot Donderdag.

Plaaslike en internasionale leiers, navorsers, implementeringsvennote, akademici en MIV/vigs-aktiviste woon die konferensie by wat handel oor die ontwikkelende landskap met die bekamping van MIV/vigs en die bestuur daarvan.

Mashatile sê Suid-Afrika dra tans die hoogste MIV/vigs- en tuberkulose (TB)-las wêreldwyd in verhouding tot sy bevolking, met ’n hoër voorkoms onder mense tussen 15 en 49 jaar oud. Meisies en jong vroue tussen 15 en 24 toon die hoogste nuwe infeksies per week in alle bevolkingsgroepe.

7,8 miljoen in SA met MIV/vigs

Die Trump-administrasie het vroeër vanjaar as deel van sy voortslepende diplomatieke uitval met Suid-Afrika sy Pepfar-hulp (die Amerikaanse presidensiële noodplan vir vigsbystand) aan Suid-Afrika opgeskort.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het kort daarna aan die parlement gesê sowat 7,8 miljoen mense in Suid-Afrika ly aan MIV/vigs en dat die regering se begroting vir 2024-’25 vir ondersteuningsdienste in dié verband R46,8 miljard beloop het. Die opgeskorte Pepfar-finansiering wat in dieselfde boekjaar R6 miljard beloop het, dek 17% van die land se MIV/vigs-program.

Mashatile het Maandag verder gesê pres. Cyril Ramaphosa se administrasie erken die impak van die Amerikaanse besnoeiings op Suid-Afrika se reaksie teen MIV/vigs.

Hy meen hoewel dit die land se programme tydelik in gevaar kan stel, “glo ons dat ons sal seëvier”.

Volgens hom was hy bly toe dr. Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid, Maandag voor sy toespraak aan hom gesê het dat alles moontlik in die lig van die besnoeiings gedoen word om te verseker dat die MIV/vigs-program nie agteruitgaan nie.

“Ons is ’n veerkragtige land met ’n briljante prestasiegeskiedenis in MIV-bestuur. Saam kan ons ’n toekoms vorm waar MIV/vigs nie meer ’n bedreiging is nie, maar ’n vae herinnering danksy ons kollektiewe krag en vasberadenheid.”

‘Erken vordering’

Mashatile sê dit is belangrik dat die konferensie die vordering erken wat in die stryd teen MIV/vigs gemaak word.

“Ons moet egter ook die uitdagings erken wat steeds voortduur om die Verenigde Nasies se 95/95/95-vigsteikens te bereik. Hierdie teikens is ’n wêreldwye strategie om die vigs-pandemie teen 2030 te beëindig. Dit mik daarna dat 95% van alle mense met MIV hul status moet ken, dat 95% van diegene wat hul status ken op volgehoue antiretrovirale behandeling moet wees, en dat 95% van diegene wat behandeling ontvang, viraal onderdruk moet wees.”

Hy sê hoewel Suid-Afrika beduidende vordering gemaak het, sukkel die land met “95% om mense op behandeling te begin en te hou. Die land sit tans op 96/78/97.”

Volgens Mashatile is een van Motsoaledi se grootste prioriteite daarom om die gaping met die tweede 95% toe te stop.

Die “Maak die gaping toe”-veldtog is daarom in Februarie vanjaar bekend gestel om die 1,1 miljoen mense met MIV te vind wat nog nie behandeling ontvang nie.

Dit loop volgens Mashatile parallel met die “Beëindig TB”-veldtog, wat daarop gemik is om 5 miljoen mense in die huidige boekjaar vir dié siekte te toets.

– llewellyn.prince@24.com

5506

SPELETJIES VANDAG

CTA