6 j. tronkstraf vir Defensor-direkteure weens bedrog

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gert Renier van Rooyen en Claudius Gerald Peterson, direkteure van Defensor Security Services, is in die hooggeregshof in Kimberley ’n vonnis van ses jaar opgelê.
Gert Renier van Rooyen en Claudius Gerald Peterson, direkteure van Defensor Security Services, is in die hooggeregshof in Kimberley ’n vonnis van ses jaar opgelê. (Foto: Nasionale Vervolgingsgesag)

’n Veiligheidsmaatskappy en sy direkteure is Woensdag in die hooggeregshof in Kimberley gevonnis nadat hulle op verskeie aanklagte van bedrog skuldig bevind is.

Defensor Security Services en die direkteure Gert Renier van Rooyen (66) en Claudius Gerald Peterson (61) is ook daaraan skuldig bevind dat hulle die Wet op die Regulering van die Private Sekuriteitsbedryf (Psira) oortree het.

Die vonnisse kom ná ’n ondersoek na ’n tenderbedrogskema wat oor jare gestrek het en die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement meer as R384 miljoen uit die sak gejaag het.

Gert Renier van Rooyen
Gert Renier van Rooyen (Foto: Argief)

Die maatskappy en sy direkteure het in 2017 bedrieglike dokumente, insluitend ’n vervalste belastingklaringsertifikaat en ’n ongeldige Psira-sertifikaat, ingedien om ’n sekuriteitstender te bekom. Die tender van R224 miljoen het later tot meer as R384 miljoen toegeneem, sê Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Lt.kol. Tebogo Thebe, woordvoerder van die Valke, het vroeër bevestig die ondersoek is in Desember 2017 by hul eenheid wat ernstige korrupsie ondersoek aangemeld. In Januarie 2020 is ’n saakdossier aangelê en Van Rooyen en Peterson is in Oktober 2021 in hegtenis geneem.

Claudius Peterson
Claudius Peterson (Foto: Argief)

Dr. Steven Jonkers, voormalige hoof van die gesondheidsdepartement, is op al die aanklagte vrygespreek. Hy is daarvan beskuldig dat hy die tender onreëlmatig aan Defensor toegeken het, maar die hof het bevind dat daar onvoldoende bewyse teen hom is. Volgens bronne oorweeg Jonkers regstappe teen die staat weens beweerde kwaadwillige vervolging.

Die verhoor, wat meer as twee jaar geduur het, is gekenmerk deur talle hofaansoeke deur die verdediging – insluitend ’n poging om die voorsittende regter te laat onttrek en ’n art. 174-aansoek om die saak van die hand te laat wys. Al hierdie aansoeke is afgekeur.

Die verdediging het ook aangevoer dat die staat se dokumente wat gebruik is – onder meer die betwiste belasting- en Psira-sertifikaat – nie die oorspronklike tenderdokumente is nie. Dit is egter ná uitgebreide betoë toegelaat.

Senokoatsane sê Isaac Mphela, senior staatsaanklaer, en Jean Booysen, staatsaanklaer, het suksesvol bewys dat Defensor Electronic Security Systems en sy direkteure doelbewus aansoek gedoen het om die tender van R384 miljoen, al het hulle nie aan die basiese vereistes voldoen nie. Ten spyte daarvan dat die maatskappy nie oor ’n geldige Psira-lisensie of die nodige nakomingsdokumente van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens beskik het nie, is Defensor as die verkose bieër geïdentifiseer.

In Augustus het die hooggeregshof bevind dat Van Rooyen en Peterson skuldig is aan bedrog, die oortreding van Psira en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA). Defensor Security Services is ook skuldig bevind aan bedrog en die oortreding van Psira.

Van Rooyen en Peterson is Woensdag tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan drie jaar opgeskort is vir vyf jaar, op voorwaarde dat hulle nie weer aan bedrog of diefstal skuldig bevind word nie. Die maatskappy is ’n boete van R1,5 miljoen opgelê, wat teen 31 Maart betaal moet word en ’n verdere R10 000 wat in geheel opgeskort is.

Die direkteure was ná hul inhegtenisneming op 8 Oktober 2021 uit op borgtog van R100 000 elk.

Ná die vonnisoplegging het hulle aansoek gedoen om ’n verlenging van hul borgtog en die hof ingelig van hul voorneme om spesiale verlof tot appèl by die appèlhof aan te teken.

Adv. Brian Mdlalose, streekhoof van die gespesialiseerde eenheid wat handelsmisdade in die Noord-Kaap ondersoek, het die toegewyde werk van die ondersoekbeamptes van die Valke geloof.

Mdlalose sê die saak word in twee afsonderlike fases vervolg: Die eerste fase, wat nou afgehandel is, het gefokus op openbareverkrygingsbedrog. Die tweede fase, wat tans aan die gang is, sal alle onwettige begunstigdes van die kontrakbetalings ten bedrae van R384 043 106,75 teiken.

Senokoatsane sê die NVG het kennis geneem van die vonnis en sal die volledige rekord bestudeer om te bepaal of verdere regstappe geregverdig is.

“Sou daar geldige regsgronde vir appèl of hersiening wees, sal ’n besluit te berde gebring word,” sê Senokoatsane.

Volgens hom het die NVG die batebeslagleggingseenheid versoek om ’n ondersoek te doen om bates terug te kry wat met die bedrieglike tenderwins verband hou.

Senokoatsane sê die saak bewys hoe korrupsie nie net die staatskas uitput nie, maar dienslewering verlam en die publiek se vertroue in openbare instellings ondermyn.

– anena.burger@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA