Hof

Belowende jong krieketspeler (16) langs pad doodgery

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Onwettige buitelander het in die landdroshof in Kimberley verskyn nadat hy glo twee ongelukke veroorsaak het waarin 'n belowende jong krieketspeler en 'n 19-jarige vrou dood is.

Nadat Omphile Jonas (16), 'n belowende draaibouler en leerling aan die Vuyolwethu Secondary School in Kimberley, Sondag getref is, het die bestuurder van 'n wit Nissan Navara-bakkie weggejaag en kort daarna in 'n taxi vasgejaag wat by 'n rooi verkeerslig gewag het.

Daar was 14 passasiers in dié taxi, wat weens die impak van die botsing omgeslaan het. Een van die passasiers, 'n 19-jarige vrou, is Dinsdag in 'n hospitaal in Kimberley aan haar beserings dood, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.

Die voorval waarin Omphile Sondag dood is, was omstreeks 14:30 by die Seleke-en-Barklystraat-vierrigtingstopstraat in Homelite. Omphile het gestap toe hy deur die bakkie getref is. Hy is op die toneel dood verklaar.

Collins Nhlanga (39), 'n Zimbabwiese burger, is in hegtenis geneem ná die botsing.

Omphile Jonas (16) was 'n belowende jong linkerarm-draaibouler wat op provinsiale vlak krieket gespeel het. Foto: Facebook/Northern Cape Cricket
Omphile Jonas (16) was 'n belowende jong linkerarm-draaibouler wat op provinsiale vlak krieket gespeel het. Foto: Facebook/Northern Cape Cricket

Al die passasiers in die taxi is na 'n hospitaal in Kimberley geneem. Die vrou wat aan haar beserings dood is, se naam kan nog nie bekend gemaak word nie, omdat haar familie nog nie behoorlik ingelig is nie, sê Kock.

Nhlanga het Maandag vlugtig in die landdroshof in Kimberley op aanklagte van strafbare manslag, bestuur onder die invloed van alkohol, roekelose en nalatige bestuur en die versuim om by 'n ongelukstoneel stil te hou verskyn.

Hy word ook daarvan aangekla dat hy die Immigrasiewet oortree het deurdat hy onwettig in die land is. Die saak is tot Donderdag uitgestel.

Intussen het Noord-Kaap Krieket op Facebook gesê hy rou oor Omphile se dood.

"Omphile was 'n baie talentvolle linkerarm-draaibouler. 'n Produk van die Frank Roro Hub wat ons provinsiale spanne vanaf 'n jong ouderdom verteenwoordig het."

Volgens Noord-Kaap Krieket het Omphile die provinsie in Maart in die Krieket Suid-Afrika Hub-uitdaging in George in die Wes-Kaap verteenwoordig. "Sy bydrae tot krieket sal gemis word," het Thapelo January, uitvoerende hoof van Noord-Kaap Krieket, gesê.

"Die direkteure en personeel betuig hul diepste medelye aan Omphile se familie en vriende. Hy was meer as net 'n speler, hy was 'n inspirasie vir almal wat die voorreg gehad het om hom te ken."

January sê Omphile se bydraes op en van die veld af was onskatbaar en sy spanmaats en vriende gaan hom mis.

Netwerk24 kon nie Woensdag die Vuyolwethu Secondary School of Omphile se familie bereik nie.

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement het ook Woensdag sy skok oor die voorval uitgespreek.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder, sê die departement is in rou oor een van sy belowende leerlinge wat so tragies weggeruk is. "Ons medelye en simpatie gaan uit na Omphile se ouers, familie, sy skoolmaats en sy spanmaats."