Bloem-prokureur se bedrogsaak uitgestel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Bloemfonteinse prokureur wat glo 'n familieonderneming uit miljoene rande bedrieg het met 'n eiendomstransaksie, het Donderdag haar eerste verskyning in die beskuldigdebank van die streekhof in die stad gemaak.

Die verhoor van Elmarie Vosloo (47), wat ten tyde van die beweerde misdryf 'n praktiserende prokureur en transportbesorger in die stad was, is tot later vandeesmaand vir onder meer verdere instruksies en 'n moontlike voorverhoor-konferensie uitgestel.

Die aanklagte teen Vosloo van Universitas spruit uit die verkoop en registrasie van eiendomme in Januarie 2016 wat aan Yochud Estates (Edms) Bpk. behoort.

Luidens die klagstaat is dit 'n familieonderneming en Maxwell Lawrence Sacks is die klaer.

Elmarie Vosloo tydens 'n vorige verskyning in die landdroshof in Bloemfontein.  Foto: Argief
Elmarie Vosloo tydens 'n vorige verskyning in die landdroshof in Bloemfontein. Foto: Argief

Vosloo staan tereg op sewe aanklagte van onder meer bedrog, diefstal, geldwassery en oortredings van die Wet op Prokureurs.

Luidens die klagstaat het sy R6 miljoen uit die eiendomstransaksie ontvang, wat in Vosloo-prokureurs se trustrekening by Nedbank gehou moes word.

Sekere betalings is uit dié bedrag gemaak, wat gelei het tot 'n oorblywende balans van R3 479 030,57.

Die klagstaat lui voorts dat Sacks Vosloo per elektroniese pos opdrag gegee het om die R3 479 030,57 wat in die trustrekening gehou is, oor te dra na die rekening van Estate Yochud Silove by Investec Bank.

Vosloo het egter versuim om die geld oor te dra soos versoek, en het die betrokke geld vir haar eie voordeel gebruik, lui die klagstaat.

Daarmee saam word aangevoer dat Vosloo nie in besit van 'n getrouheidsfondssertifikaat tydens die pleging van die beweerde misdryf was nie.

Adv. Allen Simpson tree vir Vosloo op.

- kaydene.jordaan@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA