’n Advokaat is deur die hooggeregshof in Kaapstad van die rol geskrap nadat sy meer as R200 000 wanbestee het.
Sy het ook nie ’n getrouheidsfondssertifikaat gehad nie, wat beteken sy was nie gemagtig om enige geld te ontvang nie.
Kaylin Caroline Engelbrecht van Kaapstad het ’n aansoek by die hof ingedien en gevra die hof moet beslis oor die sanksies wat die Regspraktykraad (RPR) haar opgelê het nadat sy op vyf aanklagte skuldig bevind is.

Sy het op twee daarvan skuld beken.
Agtergrond
Engelbrecht is in Oktober 2017 as advokaat toegelaat en het in die Wes-Kaap as ’n onafhanklike praktisyn sonder ’n trustrekening gewerk.
In Maart 2020 het Charles Gewalt ’n klag teen Engelbrecht by die RPR ingedien en gesê hy het R223 739,25 in haar bankrekening inbetaal sodat sy hom met die koop van ’n eiendom kan help.
Luidens Gewalt se klag het Engelbrecht erken sy het die geld gebruik en vir haar kêrel gegee om masjinerie te koop. Omdat Gewalt haar ken, het hy haar ’n paar jaar tyd gegee om hom terug te betaal, maar sy het later alle kommunikasie van hom geïgnoreer.
Gewalt was bekommerd dat hy nooit sy geld sou terugkry nie en het die klag teen haar ingedien.
RPR ondersoek
In November 2020 het Engelbrecht in ’n onderhoud met die ondersoekspan van die RPR gesê sy het ’n lening van R160 000 bekom en die geld is aan Gewalt terugbetaal. Sy het selfs ’n bewys van betaling aan Gewalt gestuur, maar die geld is nooit in sy bankrekening inbetaal nie.
Gewalt het aan die RPR gesê hy vermoed sy het die bewys van betaling vervals in ’n poging om haar dissiplinêre verhoor te keer.
Dissiplinêre verhoor
Die verhoor sou op 10 November 2021 plaasgevind het, maar ’n dag voor dit het Gewalt die RPR laat weet dat hy en Engelbrecht ’n skikkingsooreenkoms bereik het en dat hy die klag wil terugtrek.
Die RPR het egter gesê ongeag die skikking gaan die tugverhoor voort. Engelbrecht kon egter weens mediese redes nie die verhoor daardie dag bywoon nie.
Eers ’n jaar later, in Desember 2022, het Engelbrecht skuld beken op twee klagte: die versuim om rekenskap te gee van geld wat ontvang is en die wanbestuur van R223 739,25.
Sy het skuld ontken op drie klagte, naamlik dat sy geld van die publiek aanvaar het sonder ’n opdrag; onderneem het om die werk van ’n advokaat te doen; en dat sy die RPR mislei het oor die R160 000 wat aan Gewalt terugbetaal is.
Engelbrecht is op ál die klagte skuldig bevind en vir drie jaar geskors mits sy nie weer aan soortgelyke dade skuldig bevind word nie. Sy moes ook ’n boete van R30 000 betaal en daar is aanbeveel dat sy verskeie bestuurs- en etiese kursusse voltooi.
Hooggeregshof
Engelbrecht het die bevinding aanvaar, maar nie die straf nie, en het die hof genader met ’n aansoek sodat die hof, wat hoër gesag as die RPR het, die straf moet bepaal.
Die RPR het ’n teenaansoek ingedien en die hof gevra om haar as advokaat van die rol te skrap weens haar optrede en skuldigbevindings.
Engelbrecht het hierdie teenaansoek teengestaan en aangevoer sy is op ’n kwesbare tyd, toe sy swanger en op antidepressante was, gedwing om skuld te beken. Sy het toe aangevoer sy is onskuldig.
Regters Lister Nuku en Nape Dolamo het die saak aangehoor, met Nuku wat die uitspraak geskryf het.
Hy het gesê Engelbrecht se gedrag is kommerwekkend en nie wat ’n mens van ’n praktisyn in die regsberoep sou verwag nie.
Luidens die uitspraak van 10 Oktober het sy die geleentheid gehad om die waarheid te vertel, maar gekies om dit nie te doen nie.
Hulle het eenparig bevind Engelbrecht is nie geskik om as regspraktisyn te werk nie omdat sy nie net oneerlik met ’n kliënt was nie, maar ook teenoor die liggaam wat dissiplinêre jurisdiksie oor haar uitoefen.
Engelbrecht moet ook die koste van die saak betaal.
















