Die stamhof van die Bakholokoe-stam in die Oos-Vrystaat het ’n regter in die hooggeregshof in Bloemfontein met 50 beeste beboet omdat die regter sy koning as “meneer” in die hof aangespreek het.
Dit spruit uit die dringende aansoek van die Rooikraal-boerdery teen koning Letsitsa Moloi wat glo ’n sertifikaat aan ’n onderdaan uitgereik het dat hy ’n plaas by Harrismith mag beset.
Regter Rudi Cronjé is die regter in die hooggeregshof wat die saak aanhoor. Moloi en Sipho Johannes Selepe, sy onderdaan, is die verweerders in die saak.
Die saak word Vrydag in die hof aangehoor, maar Moloi en Selepe moes Donderdag teen 12:00 bewyse by die hof indien dat die plase Beginsel en Gravelotte hul eiendom is.
Die “mees eerbare hoofregter sy koninklike hoogheid Rex Semako 1 & VI King Mc Pherson” het egter oornag ’n bevel teen Cronjé uitgereik omdat hy die koning glo as “meneer Moloi” aangespreek het en nie as “koning” nie en gelas dat hy 50 beeste aan die Bakholokoe-stam moet betaal.
Die stamhof, wat na homself as “ECO-6, die globale statebond van die New Africa-interstreekhof van justisie” verwys, het ook gelas dat die boerdery se dringende aansoek teen die koning “met koste verwerp word”. Dit raak egter net die eis teen die koning en nie sy onderdaan nie.
“Hoofregter Mc Pherson” het ook gelas dat die saak vir Vrydag gekanselleer is. Hy maak egter nie melding of Moloi en Selepe wel bewyse by die hooggeregshof ingedien het dat hulle die plase besit nie.
Rooikraal is die geregistreerde eienaar van die plase en het die titelaktes as bewys aangeheg.
Die okkupasie-sertifikaat wat deur “sy koninklike hoogheid, dr. King Letsitsa III Moloi” van die Bakholokoe-stam aan Selepe uitgereik is dat hy die plase mag beset – en waarvoor hy R500 moes betaal – is as bewysstuk by die hof ingedien.

Pieter Skein van Bloemfontein, die Rooikraal-boerdery se prokureur wat in opdrag van Moolman en Pienaar Prokureurs Ingelyf optree, ontken die geldigheid van die koning en die sertifikaat.
Die boerdery het in sy aansoek aangevoer die boerdery se 600 beeste op die grond is ter sprake en Selepe se beeste kan sy diere met bek-en-klouseer besmet.
Lt.kdr. Sylvester Vulani Mangolele het namens die verweerders opgetree, maar die Rooikraal-boerdery se regsverteenwoordigers het beswaar aangeteken omdat hy nie verskyningsbevoegdheid het nie. Hy is nie as prokureur of advokaat geregistreer nie. Mangolele is in 2018 uit die Suid-Afrikaanse vloot ontslaan.
Adv. Tlhogi Moeng tree namens die Rooikraal-boerdery op.





















