Motors

Mooi van lelikgeit: Dié rygoed sal nie sommer ’n skoonheidskompetisie wen nie!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

2000 Chrysler PT Cruiser

Die Amerikaner Bryan Nesbitt is versot op die motors van die jare dertig, en toe die nostalgievlaag die motorbedryf tref met modelle soos die Volkswagen Kewer en Mini Cooper, het Nesbitt sy nis gevind.

Sy PT Cruiser het bakgat gelyk as 'n konsep, maar iets het verkeerd geloop. Die grootte van die PT Cruiser se laairuim is in advertensies geprys, maar weens daardie bonkige modderskerms is hy binnelangs maar knap.

2002 Tata Telcoline

Ons kon nie die ontwerper se naam opspoor nie, maar dit was waarskynlik 'n ingenieur sonder 'n kriesel kunssinnigheid. Eienaars se terugvoer oor dié Indiese bakkie is dat hy óf vir ewig aanhou werk óf binne sy waarborgtydperk oppak.

Agter sy verbeeldinglose lyne en wielnawe wat soos puisies uitsteek, lê 'n stewige onderstel en bakwerk. Heelparty Telcolines se enjin is egter vervang.

2010 Nissan Juke

Die Juke is 'n produk van Nissan se Europese ontwerpateljee in Londen, maar Shiro Nakamura by Nissan Japan het die laaste streep op die blad getrek.

Die Juke is in Oktober 2011 in Johannesburg bekend gestel en Suid-Afrikaners het uit die staanspoor getwyfel oor sy voorkoms.

Sommige eienaars van 'n Juke herinner 'n mens effens aan die baas van 'n bulterriër - as jy iets skeef durf sê, word jy sommer dadelik reggehelp.

Ons verwag ná dese streng terugvoer.

1998 Fiat Multipla

Die Italiaanse ontwerper Roberto Giolito wou 'n puik gesinsvoertuig maak, en hy hét ook grotendeels daarin geslaag.

Die probleem is dat kinders geterg is as Ma-hulle met 'n Multipla by die skool afgelaai het.

Dis 'n lieflike ryding, ja, maar sy neus is onder meer beskryf as "dié van 'n psigotiese strokiesprent-eend". Die Multipla het die swakste gevaar in ons meningspeiling.

Het jy iewers dalk 'n seldsame sleepsel of ryding raakgeloop? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.