Hof

Marathon-sigaretsaak begin einde se kant toe staan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie.
Ter illustrasie.

Op dag drie van die staat se getuie-opsomming blyk dit dat een van Jan Taks se langste strafsake ná meer as 22 jaar die pylvak inbeweeg.

Bekend as die “Sigaretsaak”, met “Highway” Hennie Delport as beskuldigde een, is dié multimiljoenrandse bedrogsaak in 2003 op die hofrol in Pretoria geplaas.

Met 7 239 aanklagte, onder meer rampokkery, geldwassery, die uitvoer van goedere (sigarette) na ander bestemmings as wat aangedui is op uitvoerklarings, die indiening van vals opgawes en sameswering om bedrog te pleeg, is 14 mense aanvanklik aangekla. Nadat die staat sy saak gesluit het, is ses ná ’n aansoek om ontslag vrygespreek.

Die saak teen Delport, Christopher Arthur Picard, Petrus Casparus Horne, Hendrik Fourie, Iannis Papoulias, Michiel Hermanus Kinnear, Victor Arlow en Deidre Arlow het voortgegaan, maar Victor, Delport se swaer, is intussen oorlede.

Die saak het ook ’n draai in die hooggeregshof gemaak toe vrae oor die twee spesialisaanklaers gehang het wat aangestel is, maar toe is beslis die verhoor kan voortgaan.

’n Appèlhofaansoek het die verhoor in ’n stadium ook tot stilstand gebring.

Met verloop van tyd is albei die oorspronklike senior aanklaers oorlede, asook twee regsverteenwoordigers van die verdediging, almal glo aan longsiektes soos Covid-19 of longkanker.

Nuwe aanklaers en nuwe regsverteenwoordigers moes dus telkens eers op die hoogte kom van waar die verhoor trek voordat dit kon voortgaan.

Daarby is alle hofsake destyds deur die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie vertraag.

Die vermeende tabaksmokkelaars word daarvan beskuldig dat hulle van Mei 1998 tot Maart 2002 ’n onwettige onderneming bedryf en sekere belastingvoordele probeer kry het, wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) glo ’n verlies van sowat R264 miljoen laat ly het.

Delport, wat sy bynaam gekry het ná twee noodlandings met sy vliegtuig op snelweë, is ’n vlieënier en die eienaar van Phoebus Apollo Aviation en Exclusive Tobacco Products, ’n sigaretfabriek, asook Apollo Tobacco, ’n verspreider van sigarette.

Die SAID voer aan dat hy en sy medebeskuldigdes onder meer vals uitvoerdokumente geskep het. Die sigarette is na bewering nooit uitgevoer nie, maar in Suid-Afrika verkoop of in ander plekke as wat op die dokumentasie aangedui is.

Doeane- en aksynsbelasting, en belasting op toegevoegde waarde (BTW) van byna R300 miljoen is só ontduik.

Die beskuldigdes ontken skuld.

Woensdag het streeklanddros Adriaan Bekker internasionale staatsgetuies, onder andere van Zambië, Zimbabwe en Malawi, wat in die hof in Pretoria verskyn het, se getuienis breedvoerig opgesom. Meestal doeanebeamptes het getuig oor die destydse samewerkingsooreenkomste tussen Suid-Afrika en hul lande, en hoe die prosedure van in- en uitvoer werk en wat die betrokke vorms was.

Een Zimbabwiese beampte is tydens die verhoor dokumentasie gewys waarvolgens vragte sigarette daar “afgelewer” sou word.

Sy het daarop gewys dat die stempels op die vorms vervals blyk te wees en Zimbabwe teen dié tyd ’n gerekenariseerde stelsel eerder as handgeskrewe vorms gebruik het.

Sy het ook verskeie onreëlmatighede op die vorms uitgelig, wat aangedui het dat goedere per vliegtuig in- en uitgevoer is, lui Bekker se opsommings.

“As sigarette per vliegtuig of trein die land ingekom het, sou dit gekonfiskeer geword het omdat die dokumente nie reg is nie,” het die hof gehoor.

Sekere van die sigarette se “afleweringsadresse” is vals, wat glo bevestig het die tabakprodukte het Zimbabwe nooit regtig ingekom nie, is bevind nadat die adresse opgevolg is.

Volgens Bekker het die verdediging onder meer aangevoer dat die beskuldigdes dié vorms ontvang en in “goeder trou” geglo het dis eg en reg.

As iemand betrokke is by in- en uitvoer, sou hulle sekerlik geweet het die vorms is nié reg nie, het die getuie in kruisondervraging gesê.

Die verdediging het destyds dit aan getuies uit Malawi gestel dat ’n uitvoerder vooruitbetaal sou word en as ’n vliegtuig land, is geld aan die vlieënier oorhandig.

Die buitelandse amptenare het verskil en gesê enige vreemde of buitelandse valuta moet verklaar word en goedere sou “deur die bank” eers gestempel word wanneer die belasting uitgeklaar is.

Die staatsgetuies het ook ontken dat sigarette van miljoene Malawiese kwacha wettig die land ingekom het.

“Sulke massas sigarette het nooit Malawi ingekom nie. Dit word in kleiner hoeveelhede ingebring,” het die hof gehoor.

Een van die Malawiese getuies het getuig hoe ’n doeanebeampte skuldig bevind is nadat hy vals Malawiese kwytingdokumente aan Delport verskaf het.

Voorts was daar getuies van bekende lugdienste wat ontken dat enige van Delport se sigarette aan boord van hul vlugte was of dat die beskuldigde toestemming gehad het om die lugdiens se vragbriewe te gebruik.

• Bekker sal na verwagting nog vandeesweek tyd bestee aan die opsomming en evaluering van die staat se getuies voordat hy gaan fokus op die verdediging se saak.

Hierna sal uitspraak gelewer word.

– hotto@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM