Daar is nie 'n eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wat spesifiek toegespits is op kriptogeld nie, maar die SAID neem wel dié digitale geldeenhede baie ernstig op.
So sê Andrew Wes, 'n senior bestuurder by die SAID.
Die SAID is bewus van die groot potensiële lekkasie van belastinginkomste weens mense se winste uit die verhandeling van kriptogeld wat hulle nie verklaar nie.
Daarom kom daar beslis stappe om dié mense se belasbare inkomste daaruit te teiken, het dit geblyk uit 'n paneelbespreking die afgelope week op die Belasting-indaba in Kempton Park.
Die wêreld se belastinggaarders is op pad na jou toe as jy winste uit kriptogeldeenhede maak. 'n Raamwerk oor verslagdoening oor kriptobates tree in 2027 in werking. Die sogenaamde "Crypto-Asset Reporting Framework" (CARF) behels 'n internasionale standaard vir die uitruil van inligting oor alle kriptotransaksies wat in 'n jurisdiksie plaasvind, het Wes gesê.
Verskeie inkomste-owerhede het ooreengekom om van 2027 af hierdie inligting met mekaar te deel. Die SAID is deel van dié inisiatief. Dit sal volgens Wes beteken dat enige Suid-Afrikaanse belastingbetaler wat kriptogeld hier of êrens anders in die wêreld koop of verkoop, 'n transaksie-voetspoor sal laat wat deur die betrokke owerhede opgetel sal word en met ander gedeel gaan word.
Handelaars in kripto-eenhede sal hul inligting met die SAID moet deel soos wat banke en ander instellings tans reeds doen. Op die ou einde sal hulle dan die ekwivalent van 'n ITB3-sertifikaat kan uitreik wat as die bewys van jou transaksies in kriptogeld dien.
Hou rekord en bly veilig
Thomas Lobban van Ibex Consulting sê belastingbetalers wat in kriptogeld belê, moet solank voorberei om aan die veilige kant te wees. As jy net maandeliks bydra tot die koop van kriptogeld en dit nie verkoop nie, is dit duidelik 'n langtermynbelegging en maak dit jou openbaarmaking by die SAID maklik.
Alles wat met kriptogeld te doen het, gebeur egter vinnig, en dis op die internet, so mense wat wil rekord hou, moet maar skermgrepe neem om bewys te kan lewer van hul transaksies as hulle nie andersins enige dokumentasie het om hul kripto-bedrywighede aan die SAID te verduidelik nie.
Lobban wys daarop dat daar natuurlik verskeie maniere is om inkomste uit kriptogeld te genereer, van mense wat kriptogeld myn, tot verhandeling tot langtermynbelegging. Die omskepping van jou bitcoin na rand om die geld te bestee of elders te belê, sal boonop ook kwalifiseer as 'n sneller-gebeurtenis wat belasbare inkomste tot gevolg het.
Volgens Lobban gebruik beleggers kriptogeld dikwels as 'n manier om hul portefeuljes te diversifiseer en te verskans. Die waardegroei in kriptogeld beweeg dikwels in ander rigtings as inflasie, aandeelmarkte of effekte.
Dit kan amper beskou word as 'n digitale weergawe van goud, wat tradisioneel as 'n veilige hawe beskou is.
Inkomste of kapitaal
Volgens Wes geld dieselfde beginsels vir kriptogeld as vir ander beleggingsinkomste, wat beteken daar sal bepaal moet word of die wins van 'n kapitale of inkomste-aard is. Wes reken die meeste van die tyd is die inkomste uit kriptogeld tans van 'n inkomste-aard eerder as kapitaal, maar die bedoeling van die belastingbetaler met sy belegging in bitcoin of ander kriptogeld sal bepalend wees.
As dit 'n langtermynbelegging is, byvoorbeeld om bitcoin te koop en dit bloot te hou en te sien hoe dit in waarde groei, is dit kapitaalwins as jy dit eendag verkoop, en is kapitaalwinsbelasting van toepassing.
Andersins sal die inkomste by jou gewone inkomste getel word en teen persoonlike-inkomstebelastingkoerse belas word.
Deursigtiger
Wes sê kriptogeld is 'n jong veld, met die mense wat daarby betrokke is wat baie entrepreneuries is, maar wat nie noodwendig soveel ervaring in belastingsake het nie.
Volgens hom sal die CARF van 2027 af die verhandeling in kriptogeld deursigtiger maak danksy die derdeparty-data.
Die SAID se regsafdeling werk volgens hom wel aan 'n gids hieroor. Wes gee toe 'n jaar gelede op die Belasting-indaba het hy dit ook gesê, maar hopelik kom dié lank beloofde gids wel binnekort uit om meer riglyne te gee oor hoe kriptogeld gehanteer gaan word.













