Hoewel sy voorheen te kenne gegee het dat sy nie geld of ’n vaste adres het nie en dus haar borgtogaansoek laat vaar, het die 63-jarige vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar suster onthoof het, nou van deuntjie verander nadat sy met haar seun gesels het.
Aletta Rose het Dinsdag weer in die landdroshof in Bellville verskyn.
Sy is op 20 Maart in hegtenis geneem nadat sy haar suster, Constance Scholtz (79), na bewering aangerand, onthoof en haar hande afgesny het, lui die klagstaat. Sy word van moord ingevolge die Wet op Gesinsgeweld (geweld teenoor ’n bejaarde) aangekla.
Netwerk24 het berig Menno Rose (55), Scholtz se enigste biologiese kind, sê sy ma het haar suster gehelp en haar tydelik ingeneem terwyl hulle gewag het op hul broer se begrafnis.


Rose het by haar dogter in Hawston gewoon en Menno was nie daarvan bewus dat sy tannie by sy ma kuier nie.
’n Familielid het hom en sy vrou van vreemde gebeure by sy ma se huis ingelig en hulle is genoop om ondersoek te gaan instel, vertel Menno. Hy sê hulle het Rose in die donker huis aangetref en sy het vir hulle gesê sy ma is nie tuis nie; sy het in Robertson gaan kuier.
Hy sê die huis was deurmekaar en vol sigaretstompies, maar sy ma was nie ’n roker nie.
Kort daarna het hy sy ma se naakte en onthoofde lyk toegedraai in komberse in haar kamer gevind.
Sy ma se kop is onder ’n emmer in die stort gevind. Haar hande, met agt afgekapte vingers, is in ’n sakkie onder die kombuistafel ontdek.
Rose het met haar eerste verskyning ’n aansoek om borgtog laat vaar, asook ’n versoek om vir psigiatriese waarneming gestuur te word, nadat die staat dit teengestaan het.
Sy is al voorheen op 1 September 1997 ses jaar tronkstraf opgelê weens die moord op haar swaer. Die saak is ook in die hof in Bellville aangehoor. Drie jaar van die ses jaar tronkstraf is vir vyf jaar opgeskort.
LEES OOK | Geen waarneming vir vrou wat glo haar ouer suster onthoof
Rose, in ’n pienk baadjie geklee, het Dinsdag uitdrukkingloos voor haar sit en uitstaar.
Die aanklaer het gesê die staat wag nog vir die DNS- en toksikologie-verslag.
Hulle het wel al die lykskouing- en misdaadtoneelverslag ontvang.
Toe Rose se regsverteenwoordiger die hof wou meedeel dat hulle die uitstel sal aanvaar, maar net as dit finaal gemerk is, het Rose gesê dat sy liewer om borgtog wil aansoek doen.
Sy het verduidelik dat sy voorheen gesê het sy sit vir eers haar aansoek op ys, want sy wou eers met haar seun gesels. Sy het toe ’n adres verskaf in Kuilsrivier. Dit is nie duidelik of dié adres haar seun s’n is nie.
Menno sê hy verstaan dat dit Rose se reg is om aansoek te doen om borgtog en dat die reg sy verloop moet neem.
Volgens hom is die adres in Kuilsrivier dié van Rose se seun.


Scholtz sou in April 80 jaar oud geword het. Op 17 April, haar verjaardag, het die familie ’n “intieme roudiens” vir haar gehou. Hulle het ook haar graf gaan besoek.
Menno sê hy het op die dag “ ’n onbeskryflike diep leemte” ervaar.
“Ek het vir haar ’n brief geskryf wat ek daardie dag aan haar voorgelees het. In die brief het ek my waardering aan haar uitgespreek en geskryf dat sy verskriklik gemis word.”
Hy en sy familie sien steeds weekliks ’n sielkundige om te help om die manier waarop Scholtz weggeneem is, te verwerk.
Die staat sê ’n bylae 6-aanklag staar Aletta in die gesig, en hulle sal aanvoer dat sy met voorbedagte rade opgetree het. Hulle sal die ondersoekbeampte roep om in die borgtogaansoek te getuig.
Rose se regsverteenwoordiger het gesê hulle sal voortgaan met hul borgtogaansoek deur middel van ’n beëdigde verklaring.
Die saak is tot 12 Mei uitgestel. Rose bly in aanhouding.








