Hof

Versekeringsmoorde: Drie vroue borgtog geweier

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
(Foto: Marietie Louw-Carstens)

Die polisiesersant van Limpopo wat teregstaan weens nege moorde en beweerde versekeringsbedrog van R10 miljoen, is Woensdag borgtog in die landdroshof in Polokwane geweier.

Die borgtogaansoeke van sers. Rachel Raesetsa Shokane Kutumela (43), haar dogter, Madjadji Flora Shokane (23), en Kutumela se ouer suster, Annah Shokane (47), het sedert Februarie voortgesleep.

Die drie vroue is in Oktober 2024 deur die Valke in hegtenis geneem.

Hulle staan tereg op 32 aanklagte, waaronder nege van moord en etlike van bedrog, dwarsboming van die gereg en geldwassery.

LEES OOK | Sersant, dogter en suster weens polisgeld-moorde in hof

Kapt. Keshi Mabunda, ondersoekbeampte van die Valke in die saak.
Kapt. Keshi Mabunda, ondersoekbeampte van die Valke in die saak. (Foto: Marietie Louw-Carstens)

Kapt. Keshi Mabunda is die Valke se ondersoekbeampte in die saak. Hy was ook die ondersoekbeampte in die saak van die veroordeelde reeksmoordenaar Rosemary Ndlovu (46), wat ’n polisielid van Johannesburg was en in 2023 aan ses moorde skuldig bevind is.

Rosemary Ndlovu, veroordeelde reeksmoordenaar wat in 2023 aan ses moorde skuldig bevind is. Sy was ’n polisielid in Gauteng.
Rosemary Ndlovu, veroordeelde reeksmoordenaar wat in 2023 aan ses moorde skuldig bevind is. Sy was ’n polisielid in Gauteng. (Foto: Verskaf)

Die staat voer aan Kutumela en haar suster het tussen 2013 en 2022 op ’n bedrieglike wyse lewensversekering- en begrafnispolisse uitgeneem.

Die hof het gehoor die meeste van die nege mense wat vermoor is, was familielede van die drie vroue.

Van die slagoffers het doodgebrand, verdrink of hul lyke is op stortingsterreine of langs verlate paaie in Limpopo gevind.

Lees ook | Sersant se swaer glo een van haar slagoffers

Die uitbetalings vir die polisse is deur verskeie diensverskaffers en banke soos Absa, Standard Bank, Capitec, Hollard, Assupol, Old Mutual, One Life en Clientèle gedoen.

Van die geld is glo gedeel met Kutumela se dogter, Madjadji.

Kutumela was verbonde aan die Senwabarwana-polisiekantoor en het kort ná haar inhegtenisneming in 2024 besluit om om borgtog aansoek te doen.

Annah Shokane (47)
Annah Shokane (47) (Foto: Verskaf)

Haar dogter en ouer suster het besluit hulle wil nie om borgtog aansoek doen nie.

Kutumela het midde-in haar borgtogaansoek van plan verander en besluit sy laat vaar haar aansoek.

Van links is Madjadji Flora Shokane (23), haar tante Annah Shokane (47) en Madjadji se ma, sers. Rachel Raesetsa Shokane Kutumela (43), in die hof.
Van links is Madjadji Flora Shokane (23), haar tante Annah Shokane (47) en Madjadji se ma, sers. Rachel Raesetsa Shokane Kutumela (43), in die hof. (Foto: Marietie Louw-Carstens)

Al drie vroue het in Februarie egter besluit hulle wil wel weer om borgtog aansoek doen.

Adv. Kgaogelo Lekoloane, senior staatsaanklaer in die landdroshof in Polokwane, het by Kutumela se borgtogaansoek gesê “ ’n patroon is in die beweerde misdrywe gevolg. Jy het verbintenisse met kwesbare mense, van wie sommige familielede was, gehad, versekeringseise en begrafnispolisse uitgeneem en dan sterf die mense in raaiselagtige omstandighede. Jy het dan geld geëis en dit betaal aan jou suster en dogter.”

Kutumela het dit ontken.

Sers. Rachel Raesetsa Shokane Kutumela (43) word in Oktober 2024 by die Senwabarwana-polisiekantoor in Limpopo in hegtenis geneem.
Sers. Rachel Raesetsa Shokane Kutumela (43) word in Oktober 2024 by die Senwabarwana-polisiekantoor in Limpopo in hegtenis geneem. (Foto: Verskaf)

Annah was ’n verpleegster by die Cintocare- private hospitaal in Menlyn in Pretoria en Madjadji ’n versorger by ’n ouetehuis in Pretoria-Noord.

Die hof het gehoor Annah het glo van die polisgeld wat uitbetaal is, gebruik om voertuie op veilings in Gauteng te koop.

LEES OOK | Sersant van Limpopo wat glo moor, blaas geld op voertuie

Landdros Godfrey Netshiozwi het Woensdag gesê hy gaan nie borgtog aan die drie vroue toestaan nie, want die staat het bewys dat hulle moontlik by getuies sal inmeng.

Madjadji Flora Shokane (23)
Madjadji Flora Shokane (23) (Foto: Verskaf)

Hy het Lekoloane gelyk gegee dat geen buitengewone omstandighede bewys is vir waarom hulle op borgtog vrygelaat moet word nie.

Die moontlikheid dat hulle nog misdrywe sal pleeg, kan ook nie uitgesluit word nie, sê Netshiozwi.

Die drie is sedert hul inhegtenisneming verlede jaar in aanhouding en sal weer op 4 November in die landdroshof in Polokwane verskyn.

– mlouw1@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM