In-diepte

Buitewerking-indeks | 4 uit 9 hoofstede wanfunksioneel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vier uit Suid-Afrika se nege provinsiale administratiewe hoofstede is wanfunksioneel.

Dit word onthul in News24 en Netwerk24 se Buitewerking-indeks, 'n navorsingsprojek waarin meer as 200 munisipaliteite landwyd geassesseer is.

Die hoofstede is in die munisipaliteite van Mangaung (Bloemfontein) in die Vrystaat, Msunduzi (Pietermaritzburg) in KwaZulu-Natal, Mahikeng in Noordwes en Sol Plaatje (Kimberley) in die Noord-Kaap.

Die munisipaliteite is luidens die indeks deel van 64 munisipaliteite wat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake in Augustus vanjaar ingesluit het op sy lys van wanfunksionele munisipaliteite wat hy aan die parlement voorgelê het.

Hoewel die Buffalo City-metro, waaronder die Oos-Kaapse hoofstad, Bhisho, nie as wanfunksioneel geïdentifiseer word nie, lui die indeks dat dit volgens die ouditeur-generaal se 2018-'19-verslag oor munisipaliteite met sowat R2,08 miljard as een van die grootste bydraers tot onreëlmatige uitgawes beskou word.

Die Nelson Mandelabaai-metro, die ekonomiese hartland van die Oos-Kaap, word wel as wanfunksioneel beskou.

Die indeks lui verder dat Noordwes die meeste wanfunksionele munisipaliteite met 13 uit 18 het. Slegs Rustenburg, Moretele (Makapanstad), Moses Kotane (Mogwase), Groter Taung en Kagisano-Molopo (Ganyesa) is nié wanfunksioneel nie.

Verder word 11 uit die 19 munisipaliteite in die Vrystaat as wanfunksioneel beskou. Dit is Mangaung, Matjhabeng (Welkom), Metsimaholo (Sasolburg), Moqhaka (Kroonstad), Kopanong (Trompsburg), Masilonyana (Theunissen), Tswelopele (Bultfontein), Tokologo (Boshof), Nala (Bothaville), Maluti-A-Phofung (Phuthaditjhaba) en Mafube (Frankfort).

Behalwe die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap is agt ander in daardie provinsie wanfunksioneel. Dit sluit in Makana (Makhanda), Walter Sisulu (Burgersdorp), Raymond Mhlaba (Fort Beaufort) en Amahlathi (Stutterheim).

In KwaZulu-Natal is Mpofana (Mooirivier), Inkosi Langalibalele (Estcourt), AbaQulusi (Vryheid), eMadlangeni (Utrecht), Mtubatuba en Nquthu die ander munisipaliteite wat saam met Msunduzi, luidens die indeks, wanfunksioneel is.

Sol Plaatje (Kimberley) is deel van nege munisipaliteite in die Noord-Kaap wat in dieselfde kategorie val. Van die ander is Ubuntu (Victoria-Wes), Gamagara (Kathu), Joe Morolong (Kuruman), Tsantsabane (Postmasburg) en Kai !Garib (Kakamas).

Uit die 17 munisipaliteite in Mpumalanga is sewe wanfunksioneel. Dit is eMalahleni (Witbank), Msukaligwa (Ermelo), Lekwa (Standerton), Dipaleseng (Balfour), Govan Mbeki (Secunda), Dr. J.S. Moroka (Siyabuswa) en Thaba Chweu (Lydenburg).

In Limpopo word die munisipaliteite van Lepelle Nkumpi (Lebowakgomo), Mogalakwena (Mokopane) en Modimolle-Mookgophong (Modimolle) as wanfunksioneel beskou.

Verder lui die indeks dat die Emfuleni- (Vanderbijlpark) en Merafong-munisipaliteit in Gauteng ook as wanfunksioneel beskou word.

In die Wes-Kaap word slegs die Kannaland-munisipaliteit as wanfunksioneel beskou. Vroeër is berig dat die munisipaliteit reeds sedert 2016 onder provinsiale administrasie is. Die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) regeer dit tans in koalisie met die ANC.

Die meeste van die bogenoemde wanfunksionele munisipaliteite word deur die ANC regeer.

• Die Buitewerking-indeks is vir News24 en Netwerk24 ontwerp, nagevors en gebou deur Andrew Trench, Kirsten Pearson, Alastair Otter, Laura Grant en Rudi Louw. Die projek word ondersteun deur Waarheid Eerste, 'n niewins-maatskappy wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM