Adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, meen dit was "opportunisties" en "onbetaamlik" van AfriForum om 'n openbare aankondiging oor sy ondersoek na Julius Malema, EFF-leier, te maak.
"Ek was verbaas toe hulle aankondig hulle is gereed om mnr. Malema te vervolg," het hy Dinsdag aan LP's gesê.
AfriForum het verlede week aangekondig dat sy private vervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, Malema privaat sal vervolg vir beweerde bedrog en tenderkorrupsie indien die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie die klagte teen hom herinstel nie.

Die klagte hou verband met destydse beweerde korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering in Limpopo, waarin Malema se Ratanang-familietrust 'n belang gehad het.
Die Valke het die klagte ondersoek en glo bewyse van korrupsie gevind, maar die saak teen Malema is in 2015 van die hofrol geskrap omdat dit te lank gesloer het en een van Malema se medebeskuldigdes, Kagiso Dichaba, weens siekte weer nie die verhoor bygewoon het nie.
Abrahams - wat Dinsdag deel van 'n afvaardiging van die NVG was wat 'n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie gelewer het oor sy jaarlikse prestasie en begroting - is deur LP's oor die besluit uitgevra.
Hy het gesê die "vertragings wat waargeneem is" in die vervolging van Duduzane Zuma, oudpres. Jacob Zuma se seun, asook die On-Point-kwessie was nie doelbewus nie.
"Oor die On-Point-kwessie - vertoë is aan die vooraand van die verhoor aan my gerig. Ek het die Sondag besluit dat die vervolging moet voortgaan. Die volgende dag het die een beskuldigde, wat siek was, nie by die hof opgedaag nie en die saak is van die rol geskrap.
"Ek dink steeds dit was 'n fout dat dit van die rol geskrap is - en ek sê dit met alle eerbied. Dit het egter vir ons die geleentheid gegee om weer na die kwessie te kyk en die omstandighede rondom baie van die beskuldigdes te ondersoek."
Verdere ondersoek is gedoen en onderhoude is met sekere getuies gevoer.
"Daar was nooit 'n doelbewuste vertraging nie."
Hy het gesê hulle was reeds besig om die saak weer te oorweeg toe "die nie-regeringsorganisasie" AfriForum aan die NVG geskryf het om navraag oor die vervolging te doen.
"Dit was opportunisties van die NRO (sic) om dit bekend te maak nadat hulle dit met ons bespreek het. Daar was nooit enige druk van dié NRO oor die kwessie nie."
Hy het ook uitgewei oor die saak teen Zuma jnr.
Hy het verlede week bekend gemaak dat hy besluit het om Zuma vir strafbare manslag te vervolg nadat 'n passasier in 'n minibustaxi gesterf het toe Zuma daarin vasgery het.
Hy het gesê Zuma het twee maande om vertoë te rig oor waarom hy nie vervolg moet word nie.
Abrahams het aan LP's verduidelik dat daar 'n geregtelike nadoodse ondersoek was.
"Toe die proses afgehandel is, het die voorsittende landdros 'n bevinding en aanbevelings gemaak.
"Die kwessie is toe oorweeg deur die kantoor van die direkteur van openbare vervolging en natuurlik het ander prosesse gevolg. Uiteindelik het die kwessie op my lessenaar beland en ek moes 'n besluit neem, wat ek onlangs aangekondig het.
"Daar was onder geen omstandighede enige doelbewuste vertraging nie."
Nel het vroeër aan die NVG geskryf en gevra hulle moet verklaar dat vervolging teen Zuma nie ingestel gaan word nie, sodat hy private vervolging namens die ongelukslagoffer teen die oudpresident se seun kan instel.



















