Nie een huishouding in die munisipaliteit wat die swakste in Suid-Afrika vaar, kry water- óf riooldienste nie.
Ook net 1% van huishoudings in die Impendle-munisipaliteit in landelike KwaZulu-Natal kry vullisverwyderingsdienste.
Daarby bestee dié munisipaliteit volgens News24 en Netwerk24 se Buitewerking-indeks ook "'n onmoontlik klinkende" 143% van sy totale bedryfsbegroting van R54,6 miljoen aan salarisse.
Volgens die indeks het 99% van huishoudings in die munisipaliteit, wat sowat 48 km van Pietermaritzburg af geleë is, wel elektrisiteit.

Impendle is grootliks 'n landelike deel van die Umgundlovu-distriksmunisipaliteit aan die voet van die Drakensberge. Bosbou en landbou is die hoof- ekonomiese aktiwiteite hier.
Die indeks het Impendle, wat deur die ANC geregeer word, ingevolge sy tellingstelsel as die swakste munisipaliteit in Suid-Afrika uitgewys met net 26 uit 100.
Die gemiddelde indekstelling vir munisipaliteite wat voorheen as wanfunksioneel of erger geïdentifiseer is, is sowat 43.

Impendle is een van 43 munisipaliteite wat volgens die Buitewerking-indeks "diep in die gevaarsone van ineenstorting is".
Die ANC het in 2016 se plaaslike verkiesings 89% van die steun daar gekry.
Sowat 79% van die 7 030 huishoudings in die Impendle-munisipaliteit word as arm beskou.
Luidens die Buitewerking-indeks kan die bedrag geld wat munisipaliteite aan salarisse bestee 'n waarskuwingsteken wees dat dinge daar "erg skeefloop".

Die deel van die koek wat munisipaliteite aan salarisse behoort te betaal, moet volgens Municipal Money, 'n navorsingsinisiatief van die nasionale tesourie, tussen 25% en 40% van hul totale bedryfsbegroting wissel.
Volgens die indeks is daar 46 munisipaliteite in Suid-Afrika wat meer as 40% van hul bedryfsbegrotings aan die salarisse van hul personeel bestee.
"Die ergste oortreder volgens die data is die munisipaliteit met die swakste posisie in Suid-Afrika op ons indeks, naamlik Impendle in KwaZulu-Natal - met 'n onmoontlik klinkende 143%," het die samestellers van die indeks bevind.
Ander merkwaardige oortreders in hierdie verband is die !Kheis-munisipaliteit (Groblershoop) in die Noord-Kaap en die Intsika Yethu-munisipaliteit (Cofimvaba) in die Oos-Kaap wat albei tot 51% van hul bedryfsbegroting aan salarisse bestee.
Die munisipale werkersvakbond Samwu het nou, 'n week voor 1 November se plaaslike verkiesings, "oorlog verklaar" teen sekere munisipaliteite en waterrade wat kwytgeskeld wil word van die ooreengekome salarisverhogings vir munisipale werkers waarop reeds in die bedingingsraad vir Suid-Afrikaanse plaaslike regerings ooreengekom is.

• Die Buitewerking-indeks is vir News24 en Netwerk24 deur Andrew Trench, Kirsten Pearson, Alastair Otter, Laura Grant en Rudi Louw ontwerp, nagevors en gebou. Die projek word deur Waarheid Eerste ondersteun, 'n maatskappy sonder winsbejag wat ondersoekende joernalistiek bevorder.






