
Mcebisi Jonas se getuienis dat Ajay Gupta hom R600 miljoen en 'n ministerspos aangebied het én met die dood gedreig het, is "niks anders nie as doelbewuste versinsel" om hom by beweerde staatskaping te impliseer.
So voer Ajay Gupta aan in 'n beëdigde verklaring wat Donderdag deur die kommissie van ondersoek na staatskaping openbaar gemaak is.
Die verklaring is die heel eerste keer dat die omstrede Gupta-broers reageer op die beweringe waaroor Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, verlede maand voor die kommissie getuig het.
Die verklaring is op 2 September 2018 deur 'n kommissaris van ede by die Suid-Afrikaanse konsulaat in Dubai, waarheen die Guptas uit Suid-Afrika gevlug het, onderteken.
Dit was deel van die Guptas se onsuksesvolle aansoek vroeër aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissie-voorsitter, waarin hulle toestemming wou kry om Jonas deur middel van 'n videoverbinding uit Dubai te kruisondervra.
Ajay voer verder in die verklaring aan dat dit voorkom of Jonas uit sy eie óf op aanmoediging van ander 'n vals prentjie van hom wou skilder.
Volgens hom het hy geen kennis gedra van oudpres. Jacob Zuma se kabinetskommelinge óf afdanking van ministers nie. "Ek het nie enige invloed op die aanstelling van enige lede van die uitvoerende gesag gehad nie of ooit sulke invloed gehad nie."
Jonas het verlede maand voor Zondo getuig hoe Ajay hom ten tyde van 'n vergadering in die Guptas se Saxonwold-woonkompleks op 23 Oktober 2015 die pos van minister van finansies in Nhanhla Nene se plek, asook R600 000 kontant, aangebied het.
Jonas is glo ook deur Ajay by dié vergadering 'n R600 miljoen-betaling in 'n bankrekening aangebied. Duduzane Zuma, Zuma se seun, en Fana Hlongwane, 'n omstrede sakeman, was glo ook teenwoordig.

Jonas het ook beweer dat Ajay hom met die dood gedreig het as hy sou uitpraat.
In die verklaring ontken Ajay ten sterkste dat hy Jonas met die dood gedreig het.
"In Jonas se weergawe aan die openbare beskermer (OB) het hy nooit sulke beweringe gemaak nie, selfs toe hy spesifiek uitgevra is of hy enige dreigemente ontvang het."
Ajay Gupta ontken verder in die verklaring dat hy ooit in sy huis of ooit met Jonas vergader het. Hy beweer hy was die betrokke dag in sy Oakbay-maatskappy se kantore in Sandton en dat sy werknemers dit kan bevestig.
Hy ontken ook dat hy ooit 'n ministerspos óf geld aan Jonas aangebied het.
"Sy weergawe van die vergadering wat hy met Fana Hlongwane en Duduzane Zuma gehad het, is niks anders nie as 'n doelbewuste versinsel om my by beweerde wandade te impliseer waarin ek geen rol gespeel óf teenwoordig was óf ooit vir mnr. Jonas ontmoet het nie."
Volgens Ajay het hy ook onder eed aan die OB Jonas se weergawe ontken.
Hy voer aan dat hy Duduzane goed geken het, maar net bewus was dat Hlongwane Duduzane se vriend was.
"Ek het geen verbintenis met hulle met betrekking tot enige vergadering wat hulle met Jonas en mekaar op daardie spesifieke dag of enige ander dag beplan en gereël het nie. Ek dra geen kennis van die onderwerp van daardie vergadering nie en het ook nie daarna uitgevra nie," lui die verklaring.










