Die Hessequa-munisipaliteit in die Suid-Kaap sê hy is trots daarop dat hy onder die topvyf-munisipaliteite in Suid-Afrika aangewys is volgens die Buitewerking-indeks, 'n omvattende datanavorsingsprojek deur News24 en Netwerk24, wat op die vooraand van die plaaslike verkiesings uitgereik is.
Die munisipaliteit het in 'n verklaring gesê punte is aan elkeen van die land se 257 munisipaliteite toegeken op grond van verslae van die ouditeur-generaal (OG) en Statistieke Suid-Afrika, die munisipaliteit se begrotings, werkloosheidsyfers sowel as basiese dienste wat gelewer word.
Volgens die munisipaliteit het elke amptenaar se bydrae en ingesteldheid van dienslewering, skoon prosesse op alle terreine, asook 'n stabiele politieke omgewing met duidelike doelwitte en 'n gefokusde begroting 'n rol gespeel. Hessequa sluit dorpe soos Riversdal, Stilbaai en Heidelberg in.
Die topvyf munisipaliteite is:
• Overstrand (65/100)
• Kaap Agulhas (65/100)
• Swartland (63/100)
• Hessequa (63/100)
• Saldanhabaai (63/100)
Johan Jacobs, Hessequa se munisipale bestuurder, het by navraag gesê hulle is verheug oor die prestasie.
"Omdat die indeks ten doel het om dienslewering aan die gemeenskap te meet en finansiële volhoubaarheid meet aan die hand van syfers van die nasionale tesourie, beteken die erkenning wat Hessequa kry, baie vir die munisipaliteit as geheel. Die amptenare kry erkenning vir die werk wat daagliks gedoen word en dit spoor elkeen verder aan om nog beter dienste te lewer.
"Erkenning van die publiek is 'n bewys van die noue wisselwerking wat daar reeds bestaan en die beste aanduiding dat die dienste binne Hessequa se diensstandaarde-handleiding geskied. Die diensstandaarde word jaarliks hersien en word deurlopend gemeet in die dienslewerings- en begrotingsinwerkstellingsplan van die munisipaliteit.
"Ek is geweldig trots op elke kollega se harde werk en volgehoue lojaliteit. Die feit dat Hessequa die afgelope sewe jaar agtereenvolgens skoon oudits behaal van die OG, nog 'n bewys van volhoubare plaaslike regering."

• Die Buitewerking-indeks is vir News24 en Netwerk24 ontwerp, nagevors en gebou deur Andrew Trench, Kirsten Pearson, Alastair Otter, Laura Grant en Rudi Louw. Die projek word ondersteun deur Waarheid Eerste, 'n maatskappy sonder winsbejag wat ondersoekende joernalistiek bevorder.











