Indië slaan ook toe op Guptas

Die belastingowerhede in Indië beplan Dinsdag klopjagte op die Guptas se Indiese ondernemings en eiendomme, berig mediapublikasies in die land.

Volgens nuusberigte het 'n multi-dissiplinêre span, gelei deur Indië se inkomstediens, reeds klopjagte op die Guptas se huis in Saharanpur, asook die kantoor van Ajay Gupta se rekenmeester uitgevoer.

Die klopjagte fokus op die Guptas se boekhouding en state van inkomstes en uitgawes. Die webtuiste jagran.com sê die klopjag op Ajay se huis het Dinsdag om 07:00 begin. 'n Groot skare het buite saamgedrom maar die polisie het niemand toegelaat om in of uit te gaan nie.

Luidens berigte in die Indiese media is 'n bedrogsaak ses maande gelede in Saharanpur teen Ajay geopen. Die saak het met die koop van grond te doen.

Livehindustan.com, wat gesê het die Gupta-broers is die sewende rykste mense in Saharanpur, berig die Indiese owerhede het in die klopjag op dokumente beslag gelê. Na wat berig word, was die Gupta-broers nie daar nie.

Nog webtuiste, Patrika.com, berig dat 'n klopjag ook op die kantore van die Sahara-maatskappy in Hakikat Nagar en op nog 'n eiendom in Dehradun uitgevoer is.

Die media in Indië het almal berig dat die Gupta-broers in Suid-Afrika weens korrupsie-klagte gesoek word.

Die Valke het vroeër bevestig dat Ajay voortvlugtig is.

Twee weke gelede is berig hy 'n troue in Indië bygewoon het toe die Valke hom probeer opspoor het. Volgens inligting het hy glo van daar na Dubai gevlieg.

Die Guptas se regsverteenwoordiger, Ahmed Gani, het Dinsdag gesê hy weet nie van die klopjagte in Indië nie en kan dit dus nie bevestig nie.

In Februarie het die Valke 'n klopjag gedoen op die familie se huis in Saxonwold, Johannesburg, asook op ander eiendomme. Agt mense wat met die familie verbind word, het in die Bloemfontein-streekhof verskyn op aanklagte van diefstal, bedrog en sameswering om diefstal en bedrog te pleeg.

Die verdagtes is in hegtenis geneem rakende ondersoeke na die Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat.

In Januarie het die Valke ook klopjagte op die Vrystaatse premier, Ace Magashule, se kantore en die departement van landbou se provinsiale kantore uitgevoer wat met die Vrede-projek verband gehou het.

'n Beëdigde verklaring het ook onthul dat die Vrystaatse landboudepartement - toe onder die voormalige minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane, wat LUR vir landbou in die Vrystaat was - het na bewering R220 miljoen aan die Guptas en van hul vennote betaal in wat die batebeslagleggingseenheid beskryf het as 'n skema wat ontwerp is om die departement te bedrieg en geld daarvan te steel.

Daar is in 2017 berig hoe minstens R30 miljoen wat, via die suiwelplaas, aan die Guptas betaal is, uiteindelik die familie se Sun City-troue in 2013 gefinansier het.

Angelique Serrao, News24

SPELETJIES VANDAG

CTA