Indiese owerhede slaan toe op Guptas

Dinsdag se klopjagte op die Guptas se ondernemings en eiendomme in Indië het, in dié stadium, niks met hul beweerde wanpraktyke in Suid-Afrika te doen nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, sê hoewel hulle bewus is van die klopjagte van 'n multidissiplinêre span onder leiding van Indië se inkomstediens, is hulle nie deur hul Indiese eweknieë hieroor ingelig nie.

"Hulle sal ons inlig as daar wel iets relevant vir ons uitkom. Ons is egter nie in die stadium by hul optrede betrokke nie. Hul ondersoeke is onafhanklik van ons s'n."

Atul Gupta. Foto: Lauren Mulligan
Atul Gupta. Foto: Lauren Mulligan

Ander bronne het bevestig dat die optrede in Indië op die oog af verband hou met dié land se belastingwette.

Die klopjagte het gefokus op die Guptas se boekhouding en state van inkomstes en uitgawes. Dit het volgens die webtuiste jagran.com reeds om 07:00 (omstreeks 10:30 Suid-Afrikaanse tyd) by Ajay Gupta se huis begin.

Luidens berigte in die Indiese media is 'n bedrogsaak ses maande gelede in Saharanpur teen Ajay geopen. Die saak hou met die koop van grond verband.

Ook die kantoor van Ajay se rekenmeester het deurgeloop.

Livehindustan.com berig die Indiese owerhede het in die klopjag op dokumente beslag gelê. Na wat berig word, was die Gupta-broers nie daar nie.

Nog 'n webtuiste, Patrika.com, berig dat 'n klopjag ook op die kantore van die Sahara-maatskappy in Hakikat Nagar en op nog 'n eiendom in Dehradun uitgevoer is.

Die Indiese media het deur die bank ook berig dat die Gupta-broers in Suid-Afrika weens korrupsieklagte gesoek word.

Die Valke het vroeër bevestig dat Ajay voortvlugtig is.

Dit kom nadat hulle in Februarie 'n klopjag gedoen het op die familie se huis in Saxonwold, Johannesburg, asook op ander eiendomme.

Agt mense wat met die familie verbind word, het reeds in die streekhof in Bloemfontein verskyn op aanklagte van diefstal, bedrog en sameswering om diefstal en bedrog te pleeg. Dié saak hou verband met die omstrede Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat.

* Die Indiese Inkomstediens het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.

Hanti Otto en News24

SPELETJIES VANDAG

CTA