In Diepte

Die luukse lewe van Mashatile-seuns se sakevennote

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sy is net 24 jaar oud en noem haar TikTok-blad "die kronieke van 'n werklose meisie", maar het in Junie verlede jaar - saam met adj.pres. Paul Mashatile se seun - 'n brandbestryding-en-bespeuringstender van drie jaar by die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling losgeslaan.

Wat die storie van Thato Nokaneng van Pretoria nog merkwaardiger maak, is dat Suid-Afrikaanse maatskappyrekords wys sy en haar ouer suster, Lefentse (28), word in etlike ondernemings met Mashatile se seuns - Thabiso Mashatile (29) en Tinyiko Mvelase (30) - en nóg 'n sakevennoot, Nala Mahlakoana (34), verbind (sien die meegaande kassie).

Die susters Lefentse en Thato Nokaneng is sakevennote van adj.pres. Paul Mashatile se twee seuns. Foto: TikTok
Die susters Lefentse en Thato Nokaneng is sakevennote van adj.pres. Paul Mashatile se twee seuns. Foto: TikTok

Rekords van die nasionale tesourie wys Nokaneng en die rolprentvervaardiger Mvelase was aan die stuur van sake by Ngwato and Manzi Group toe dié kontrak beding is. Thabiso het per e-pos aan Netwerk24 geskryf hy is die onderneming se projekbestuurder.

Die nasionale tesourie het navrae oor die waarde van dié tender na die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling verwys.

Moses Raditlhalo van die departement het aan Netwerk24 gesê met so 'n tender word die kontrakteurs ingeroep en betaal wanneer die werk gedoen moet word.

Die soeklig op Mashatile se beweerde weelderige leefstyl het verskerp sedert hy in Maart vanjaar as adjunkpresident ingehuldig is. Die omstredenheid het uitgekring na sy kinders se sakepraktyke.

Thato se TikTok-blad waarop sy haarself as "werkloos" beskryf. Foto: TikTok
Thato se TikTok-blad waarop sy haarself as "werkloos" beskryf. Foto: TikTok

Thabiso was onlangs in die nuus toe News24 onthul het die swierige huis van R37 miljoen in Johannesburg waarin die adjunkpresident woon, is op die naam van 'n maatskappy (Legacy Properties) geregistreer waarvan Thabiso en sy swaer Nonceba Nonkwelo die direkteure is.

Nonkwelo is met Mashatile se oudste dogter, Palesa, getroud.

Thabiso Mashatile Foto: manzimashatile.org
Thabiso Mashatile Foto: manzimashatile.org
Tinyiko Mvelase Foto: manzimashatile.org
Tinyiko Mvelase Foto: manzimashatile.org

Die storm van omstredenheid om Mashatile is aanvanklik in 2007 ontketen toe die Mail & Guardian berig het dat twee tenders wat saam R20 miljoen werd was, in 2005 aan Business Connexion, 'n inligtingstegnologiemaatskappy, toegeken is twee maande nadat hulle sy dogter Palesa aangestel het.

Mashatile, wat destyds die LUR vir finansies in Gauteng was, en Business Connexion het destyds enige ongerymdhede ontken.

Brandbestrydingskontrak

Die maatskappy Modipadi Nokaneng (dit is ook Lefentse se tweede naam en haar van) het saam met Ngwato and Manzi Group suksesvol vir die driejaarbrandbestrydingskontrak gebie.

Huidige maatskappyrekords wys Nokaneng en Mahlakoana is deesdae die enkeldirekteure van onderskeidelik Ngwato and Manzi Group en Modipadi Nokaneng, maar tenderrekords wat die nasionale tesourie aan Netwerk24 verskaf het, wys Nokaneng, Mvelase en Lefentse was die bodaanvoerders en kontakpersone toe hulle vir dié tenders gebie het en dit toegeken is.

Maar: Al word Nokaneng en Mvelase as die kontakpersone aangedui, behoort die selfoonnommer wat as die kontaknommer by Ngwato and Manzi Group se suksesvolle tender aangedui word, in der waarheid aan Thabiso.

Thabiso het by navraag aan Netwerk24 gesê hy is tans Ngwato and Manzi Group se projekbestuurder en "as 'n voormalige direkteur van die maatskappy kon my besonderhede op rekord gewees het as kontakpersoon . . . en dis waarskynlik hoe die verkeerde selfoonnommer opgeneem is".

Op TikTok-video's wat Nokaneng al gedeel het, na-aap sy gereeld stemgrepe uit die werklikheidstelevisiereeks Keeping Up with the Kardashians. Dis duidelik die Nokaneng-susters het 'n voorliefde vir peperduur ontwerpersklere, eksklusiewe vakansies en gesofistikeerde alkoholiese drankies.

Op 'n aandjie uit deel Lefentse 'n video van waar sy en 'n groep vriende in 'n weelderige nagklub dans en om 'n tafel kuier waarop etlike bottels Veuve Clicquot - wat tussen R800 en R1 000 per bottel kos - in 'n ysbak pryk. Die video, wat meer as 5 800 trefslae gekry het, wys ook hoe die vroue Jägermeister rondstuur en uit die bottel drink.

"Damn . . . imagine the bill . . ." lui een van die kommentare.

Nokaneng het TikTok-kykers 'n paar jaar gelede 'n kykie op haar uitspattige sosiale lewe gegee terwyl sy besig was om haar meestersgraad in korporatiewe finansies aan die prestigeryke King's College in Londen, Engeland, te verwerf.

'n Skermgreep van 'n makietie op die Griekse rykmanseiland Mykonos wat Lefentse op TikTok gedeel het. Foto: TikTok
'n Skermgreep van 'n makietie op die Griekse rykmanseiland Mykonos wat Lefentse op TikTok gedeel het. Foto: TikTok
Lefentse spog gereeld met die luukse handelsname wat sy op inkopietogte in die buiteland aanskaf. Foto: TikTok
Lefentse spog gereeld met die luukse handelsname wat sy op inkopietogte in die buiteland aanskaf. Foto: TikTok

Die ontwerpersklere waarmee dié susters spog, sluit in skoene uit Kanye West se Foam-reeks, Balenciaga, Fendi, Dior en Louis Vuitton en hulle teug gereeld aan peperduur drankies soos Hennesy en Don Julio.

In video's wys Lefentse ook haar luukse vakansies in eksotiese bestemmings soos die Griekse eiland Mykonos, Dubai en Parys.

Die sakeadres wat by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) as dié van Ngwato and Manzi Group gelys word, is in Alexandra, die Johannesburgse voorstad waar Mashatile sy politieke tande geslyp het.

Toe Netwerk24 die adres besoek, het 'n vrou wat voor die hek staan, gesê dis 'n woonhuis en daar word g'n onderneming hier bedryf nie, berig Dennis Delport. Die nou straat waarin die huis geleë is, is aan die een punt met 'n hek en 'n slot afgesluit.

Die huis in Alexandra, 'n voorstad van Johannesburg, wat as die sakeadres van Ngwato and Manzi Group gelys is. Foto: Melinda Stuurman
Die huis in Alexandra, 'n voorstad van Johannesburg, wat as die sakeadres van Ngwato and Manzi Group gelys is. Foto: Melinda Stuurman

Nokaneng skryf per e-pos aan Netwerk24 haar betrokkenheid by die sakepraktyke van die Mashatile-seuns het begin toe sy voor haar meestersgraad in korporatiewe finansies 'n werksaanbod van Ngwato and Manzi Group aanvaar het en toe 'n direkteur van die maatskappy geword het.

Mvelase sê: "Toe die rolprentbedryf gesukkel het, het ek dit verlaat om ander sakemoontlikhede te ondersoek."

Volgens Lefentse was sy in 2017 'n medestigter van Modipadi Nokaneng, maar het sy "weens persoonlike redes" eers in 2021 'n direkteur geword. Sy het twee jaar in dié rol gedien voordat sy vanjaar bedank het.

Sy en Mahlakoana sê albei Modipadi Nokaneng is 'n brandbestrydingsonderneming met meer as tien jaar ervaring in dié veld, maar dis onduidelik hoe dit moontlik is as die maatskappy volgens haar eie weergawe en maatskappyrekords eers in 2017 tot stand gekom het.

Met Netwerk24 se aankoms by die sakeadres wat Modipadi Nokaneng by die CIPC gelys het, tref Dennis Delport weer 'n residensiële woning aan.

Die woning in Soweto wat volgens maatskappyrekords as die sakeadres van Modipadi Nokaneng aangedui word. Foto: Melinda Stuurman
Die woning in Soweto wat volgens maatskappyrekords as die sakeadres van Modipadi Nokaneng aangedui word. Foto: Melinda Stuurman

'n Verdere ondersoek deur Netwerk24 het bevind Ngwato and Manzi Group het in November verlede jaar gebie om vir drie jaar skryfbehoeftes aan die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) in die Vrystaat te verskaf en te versprei.

Toe die bod verlede jaar voor die sluitingsdatum van 3 November ingedien is, was Nokaneng en Mvelase die enigste direkteure van die groep.

'n Woordvoerder van die nasionale tesourie het aan Netwerk24 gesê dié tender is intussen gekanselleer en is aan niemand toegestaan nie.

Op die vraag hoe Ngwato and Manzi Group tenders vir sulke uiteenlopende staatskontrakte soos brandbestryding en die verskaffing en verspreiding van skryfbehoeftes kon indien, het Nokaneng geantwoord Ngwato and Manzi Group is betrokke by instandhouding en konstruksie.

Thabiso het geantwoord Ngwato and Manzi Group beskik "oor die nodige vaardighede en ervaring om aan dié tendervereistes te voldoen".

"Die maatskappy is by 'n wye reeks nywerhede en bedryfsoperasies betrokke."

Direkteurelys: Ngwato and Manzi Group

Maart 2016 - Die maatskappy word gestig met Nala Mahlakoana as direkteur.

April 2021 - Thabiso Mashatile word bygevoeg as direkteur.

Mei 2022 - Thato Nokaneng en Tinyiko Mvelase word bygevoeg as direkteure en Thabiso en Mahlakoana bedank.

Julie 2023 - Mvelase bedank en Nokaneng word die enigste direkteur.

Direkteurelys: Modipadi Nokaneng

Februarie 2017 - Die maatskappy word gestig.

Februarie 2018 - Lefentse Nokaneng word aangedui as enigste direkteur.

November 2019 - Nala Mahlakoana word bygevoeg as direkteur en Lefentse word verwyder.

November 2021 - Lefentse word weer gelys as direkteur en Mahlakoana bedank.

Maart 2023 - Lefentse bedank as direkteur en Mahlakoana word die enkeldirekteur.

Direkteurelys: Ngwato and Manzi Properties (die maatskappy word tans gederegistreer)

Januarie 2019 - Die maatskappy word gestig.

Maart 2021 - Lefentse Nokaneng en Nala Mahlakoana word direkteure.

Mei 2022 - Lefentse en Mahlakoana bedank as direkteure en Tinyiko Mvelase en Thato Nokaneng word as direkteure gelys.

• Hierdie ondersoekende artikel is gedoen in samewerking met Waarheid Eerste, 'n maatskappy sonder winsbejag wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

Almari Wessels

Almari Wessels

Almari Wessels is 'n ondersoekende joernalis by Netwerk24, waar sy haarself op die ontbloting van korrupsie en wanpraktyke in die openbare en private sektor toespits.