
Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat en sekretaris-generaal van die ANC, se naam is van die eerstes wat opduik as beweerde korrupsie en nepotisme ter sprake kom.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, sê Magashule se naam duik op saam met dié van oudpres. Jacob Zuma, Supra Mahumapelo, Noordwes se oud-premier, David Mabuza, adjunk-president, Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, Hlaudi Motsoeneng, afgedankte bedryfshoof van die SAUK, en die Prasa-leierskap.
"Magashule is selfs in daardie omgewing 'n leier," sê Duvenhage.
Oor waarom hy hiermee wegkom, sê Duvenhage dit is soos die Italiaanse filosoof Nicola Machiavelli wat gesê het "mag bepaal of dikteer die reg".
"As die magsbasis sterk genoeg is, beïnvloed dit die regsprosesse soos wat ons in staatskaping gesien het. Dié soort leierskap verskans hulle in mafia-agtige prosesse waarin regshandeling ondermyn word."
Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê terwyl Zuma iemand anders se Joker is as dit by staatskaping kom, is Magashule sy eie Ace as dit by provinsiale kaping kom.
"Magashule besit Zuma en het hom van staatskaping geleer."

Patricia Kopane, Vrystaatse DA-leier en premierskandidaat van die party vir 2019 se nasionale verkiesing, het vandeesweek op 'n nuuskonferensie 17 sterk punte uitgelig waarom sy meen Magashule die Vrystaat laat "kaap" het toe hy premier was. Sy het dié "dossier" na die Zondo-kommissie gestuur sodat sy beweerde rol in staatskaping ondersoek kan word.
In die verslag sê sy die Vrede-suiwelprojek het die middelpunt van omstredenheid in die Vrystaat geword toe die provinsie "gekaap" is.
Boonop is die projek in 2012 in Magashule se kantoor goedgekeur.
"Die projek is geïmplementeer sonder dat die voorskrifte van die voorkeur-aankope-afdeling gevolg is, sonder 'n begroting, sonder dat 'n werkbaarheidstudie gedoen is en sonder die versoek van dringendheid waarom dié vereistes omseil moes word.
"Die Gupta-gekoppelde Estina-maatskappy was 'n vennoot, asook die implementeringsagent, wat opsigself onreëlmatig is, indien nie strafregtelik nie," sê sy.
"Estina het boonop 'n wanvoorstelling gemaak deur valslik te beweer dat hy deur 'n prominente suiwelmaatskappy in Indië, Paras, gerugsteun word. Paras het dit verwerp.
"Kamal Vasram, direkteur van Estina, het slegs IT-ondervinding en geen ondervinding van 'n melkplaas nie," lui die verslag.

Kopane lig die Zondo-kommissie in dat Estina R228 miljoen aan die projek moes bestee en die Vrystaatse regering R342 miljoen. "Dit was hoogs onreëlmatig dat Estina toe kontraktueel 'n aandeel van 49% in die projek moes kry vir 'n belegging van 40%."
Magashule het die kontrak in sy premierskantoor goedgekeur, sê Kopane.
"R250 miljoen is in die projek belê. Die provinsiale regering het geld glo regstreeks in die Estina-bankrekening inbetaal vir die koop van koeie en die oprigting van 'n melkery, prosesseringsaanleg, beeskrale en ander infrastruktuur."
Sy sê die 80 begunstigdes het nog nie 'n sent baat gevind nie.
" 'n Verslag van die nasionale tesourie wat R868 447,33 gekos het en wat aanbeveel het dat dissiplinêre stappe teen senior regeringsamptenare gedoen moes word, is deur die destydse premier (Magashule) en voormalige LUR'e vir landbou, Mosebenzi Zwane, Mamiki Qabathe en Oupa Khoabane, geïgnoreer."
Kopane lig die Zondo-kommissie in dat Atul Gupta na bewering De Oude Pastorie, 'n eiendom in Vrede, met openbare geld gekoop het vir die gebruik deur die projek-koördineerder, Chandrama Prasad. Prasad was die voormalige sekretaris van die hoofminister van die Uttar-provinsie in Indië, wat die Guptas se tuisprovinsie is.
Dié eiendom is nie oorgedra na die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie wat die melkery begin bestuur het nadat Estina hom onttrek het nie.



















