Julius Malema, leier van die EFF, het deels baatgevind by R16,1 miljoen wat sy party se leierskap glo van die VBS Mutual Bank ontvang het.

Dit is volgens 'n ondersoek deur Scorpio, die Daily Maverick se ondersoekeenheid.
Die bevindinge dui daarop dat Malema, Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF, sy broer Brian, en Malema se neef, Matsobane Phaleng, almal hierby betrokke was.
Die ondersoekspan het die VBS-geldspoor ontleed en 'n oordrag van R16,1 miljoen van VBS na Brian se maatskappy, Sgameka Projects, blootgelê. Sgameka is in der waarheid 'n dopmaatskappy.
Daar is ook bevind dat minstens R5,3 miljoen van die R16,1 miljoen aan Mahuna Investments, 'n maatskappy wat aan Phaleng behoort, betaal is. Dit is volgens die amptelike dokumentasie van die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC).
Die Daily Maverick berig dat Malema die Mahuna Investments-rekening vir "persoonlike omkoopgeld en as alter ego" gebruik het.
Die ondersoekspan het 'n aantal bankstate van Mahuna Investments ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat Malema 'n bankkaart gebruik het wat aan die maatskappy behoort. In Julie 2018 het Malema na bewering die kaart gebruik om weeldeartikels ter waarde van R27 094 by onder meer Gucci en Le Coq Sportif in Sandton City te koop.
In dieselfde maand is die Mahuna Investments-rekening gebruik om R416 900 aan die Mekete Lodge-terrein in Polokwane te betaal, wat volgens Scorpio 'n sakeonderneming is wat met Malema, die EFF-lid Herbert Matlaila en "minstens drie" van Malema se direkte familielede, insluitend Phaleng, verbind word.
Die ondersoek het minstens 35 internetbetalings van altesaam R2,07 miljoen gedurende 2017 en 2018 aan Mekete Lodge geopenbaar. Dit was Mahuna Investments se grootste uitgawe.
Hy is een van ons beste kliënte en ons waardeer sy ondersteuning opreg.
— Matsobane Phaleng
Oor Mekete Lodge, sê Phaleng: "Ons bestuur ons gasvryheidsonderneming by Mekete. Ons bied geleenthede aan en bring bekende plaaslike en nasionale kunstenaars en platejoggies na Mekete waar ons toegangsgeld vir kos en drank vra."
Oor Malema se betrokkenheid het Phaleng eenvoudig gesê "hy het byna al hierdie geleenthede bygewoon".
"Hy is een van ons beste kliënte en ons waardeer sy ondersteuning opreg".
Scorpio sê dat nie Malema of die EFF se woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, op vrae hieroor gereageer het wat per e-pos op 5 September aan hulle gestuur is nie.
Malema het vroeër teenoor News24 beweringe ontken dat die party by die ineenstorting van die VBS Mutual Bank betrokke was en het oproepe vir 'n ondersoek verwelkom.
- News24










